Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mag jy Kersfees smul aan ’n minnemaal . . .

My ma sê altyd: “Vetsug is nie oorerflik nie, eetgewoontes wel.” En as jy soos ek uit ’n tradisionele, Afrikaanse familie kom, sal jy weet dat my ma die waarheid praat.

Die enigste beeld wat ek nog van my ouma kan oproep, is hoe sy met haar forse boarms in die warm kombuis staan en brood knie, hoe sy geruik het soos vars, warm suurdeegbeskuit uit die Esse-steenkoolstoof. En ek onthou die stapels kos wat by elke ete die tafels laat holrug staan het.

Met Kersfees was dit oordaad kwadraat: gemmerbier en vars waatlemoen wat in ’n streepsak in die plaasdam afgekoel is, vier of vyf soorte vleis met dubbel soveel bygeregte en les bes, die doekpoeding met ’n versteekte bronspennie.

Ek weet as ek môreaand by my ma se tafel aanskuif, gaan dit weer so ’n gedoente afgee: Ons eetgewoontes het ons by my ouma geërf. Sielkundig dink ek dit het iets te doen met die swaarkryjare van die Groot Depressie, toe my ouma-hulle sprinkane en ander eetgoed uit die veld moes kry en skilpad ’n delikatesse by spesiale geleenthede was.

Die Groot Depressie leef as ’n meem in ons gene en ons eet oordadig om armoede en swaarkry te besweer.

Ek kook vir my geliefdes ’n minnemaal. Dis my sielskos vir my beminde. Afrikaans se koswoordeskat is innoverend – ryk en lekker, soos koffiekapitaal.

Die vermaarde kok Marinda Engelbrecht vra die afgelope week: “Bestaan die woord ‘minnemaal’? Ek kook vir my geliefdes ’n minnemaal. Dis my sielskos vir my beminde.” Wat ’n pragtige woord: “minnemaal”! Net soos “hartskos”, wat ook die naam van Elmarie Claassens se kookprogram op Via is. Albei woorde sê in een asemteug hoe diep kosmaak in ons are loop.

Afrikaans se koswoordeskat is innoverend – ryk en lekker, soos koffiekapitaal.

Vra maar ’n Nederlander van watter Afrikaanse woorde hulle hou en een van die eerstes wat genoem word, is “toebroodjie”. Dié innoverende woord moes juis iewers in die Groot Depressie-jare ontstaan het: In die 1931-uitgawe van die AWS staan hy nog nie, maar in die 1937-uitgawe wel.

Vandag is “toebroodjie” en die informele “toebie” skering en inslag by Afrikaanssprekendes.

Drie nuwerwetse woorde skop nou nes in Afrikaans:

  • “sjokoladebruintjie”, naas “brownie” (albei in die 2017-AWS): Die woord “bruintjie” is ’n leenvertaling van die Engelse brownie – albei bestaan uit ’n kleuradjektief plus verkleiningsuffiks. Brownie dateer uit die 1510’s uit Skotland;
  • “gladdejantjie”, naas ­“smoothie” (albei ook in die 2017-AWS): Menige taalpraktisyn skop teen die woord “gladdejantjie” omdat dit hul insiens op ’n foutiewe interpretasie gegrond is. ’n Persoon wat smooth is, ’n smooth operator, word in Afrikaans ’n “gladdejan” genoem. Die een of ander innoverende taalgebruiker het dié “gladdejan” toe gaan herinterpreteer en dit in die kosdomein loop staan aanwend. Dié proses staan in die taalkunde as herleksikalisering bekend;
  • “tjalie”, naas “wrap”, “tortilla” of “voupakkie”: Die nuwe AWS wil nog niks weet van “wrap” nie, maar ons sou kon voorspel dat hy dalk ook maar iewers in die toekoms as leenwoord (net soos “tortilla”) sy plek gaan vind. Persoonlik vind ek dat iets soos “hoender-en-avokadotjalie” lekker op die tong val, juis ook omdat dit ’n kreatiewe herinterpretasie van die verouderende woord “tjalie” is. Eet smaaklik en bly weg van die weegskaal! Dis volgende jaar se probleem . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.