Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mag kan menslikheid verkruppel

Mense word gesosialiseer om maniere van wees, dink en doen as vanselfsprekend te aanvaar, maar eintlik bepaal magsverhoudinge alles, skryf Christi van der Westhuizen.

Betogers laat verlede maand hul stem by die parlement in Kaapstad hoor oor geslagsgeweld. Foto: Gallo Images

Die reaksie op die Wysigingswetsontwerp op Burgerlike Verbintenisse wat pas in die parlement deurgevoer is, onthul meer as net die stand van homofobie in Suid-Afrika.

Dit wys ook waar die magsverhouding tussen vroue en mans staan, net soos die huidige vlaag van uiterse geweld teen vroue ook ’n aanduiding is.

Die wysigingswet korrigeer die probleem van sogenaamde gewetensbeswaar in die oorspronklike Wet op Burgerlike Verbintenisse van 2006. Voorheen kon huweliksbeamptes by die departement van binnelandse sake weier om selfde-geslag-pare in die eg te verbind, met “gewetensbeswaar” as verskoning.

Die wettiging van selfde-geslag-verbintenisse was ’n politieke deurbraak, en die kroon op ’n dapper stryd om die beregtiging van lesbiërs en gays in Suid-Afrika. Maar die klousule het ’n suur smaak in die mond gelaat.

Die erkenning van “gewetensbeswaar” teen homoseksuele verhoudings skep ’n teenstrydigheid in die wet. Dit kom neer op ’n erkenning van die staat dat daar ’n geldige etiese standpunt teen homoseksualiteit bestaan, tot in die mate dat staatsamptenare mag weier om hul plig uit te voer en wettiglik sekere landsburgers as tweede klas mag behandel.

Op soortgelyke wyse ontneem die 'gewetensbeswaar'-klousule in die Wet op die Keuse oor die Beëindiging van Swangerskap vroue van hul reg om te besluit wat om waar en wanneer met hul eie liggame te doen.

In ’n grondwetlike demokrasie waarin die menswaardigheid van diegene met seksualiteite anders as die dominante vorm ook verskans is, is dit ’n onhoudbare teenstrydigheid. Dit het beteken dat pare by regeringskantore weggewys is, soms in verafgeleë plekke waar dit moeilik is om by ’n ander kantoor uit te kom. So word lesbiërs en gays in die praktyk van hierdie eenvoudige, dog belangrike erkenning van hul gelyke menswaardigheid ontneem.

Op soortgelyke wyse ontneem die “gewetensbeswaar”-klousule in die Wet op die Keuse oor die Beëindiging van Swangerskap vroue van hul reg om te besluit wat om waar en wanneer met hul eie liggame te doen. Dié politieke stryd moet nog verder gevoer word.

Regse teenstanders van die Wysigingswetsontwerp op Burgerlike Verbintenisse argumenteer dat die oorspronklike wet twee soorte regte gebalanseer het. Volgens hulle is die reg op godsdiensvryheid in balans gebring met lesbiese en gay mense se reg op die wetlike beskerming van hul verhoudings.

Hierdie argument is oëverblindery. Die reg wat hier ter sprake is, is menswaardigheid in die vorm van ’n gelyke reg op die wetlike erkenning van ’n intieme verhouding, met al die ekonomiese, kulturele en ander voorregte wat daarmee gepaardgaan.

Die reg op godsdiensvryheid is ’n tweede orde-reg in dié geval, want dit behels nie die menswaardigheid van die persone wat hulself daarop beroep nie.

Diskoers wat fout by slagoffer soek

Mense betoog vandeesmaand in Durban teen geslagsgeweld. Foto: Gallo Images

Hoekom so hard skop teen intieme verhoudings anders as die dominante norm, maar wat steeds tussen twee konsensuele volwassenes is?

In die eerste plek gaan dit daaroor om die basiese menslikheid van lesbiërs en gays te ontken deur hulle te beroof van ’n grondliggende vorm van wetlike beskerming van hul verhoudings.

In die tweede plek het dié weerstand ook baie te make met die handhawing van ongelykheid tussen vroue en mans in die algemeen. Net soos geweld teen vroue ook geslagsongelykheid in stand hou.

Mag word onder meer met ideologie, godsdiens en kultuur ontplooi, wat ook op sussende maniere werk.

Maar mense dink dikwels nie só oor homofobie of oor geslagsgegronde geweld nie.

Die rede is dat onderdrukkende magsverhoudinge juis kan voortbestaan omdat die metodes van magsuitoefening dikwels onduidelik is.

Mense word gesosialiseer om maniere van wees, dink en doen as vanselfsprekend te aanvaar, maar eintlik bepaal magsverhoudinge alles.

Mag word onder meer met ideologie, godsdiens en kultuur ontplooi, wat ook op sussende maniere werk deur mense terselfdertyd te laat dink dat onderdrukkende of marginaliserende praktyke normaal, natuurlik of Godgegewe is.

Hierdie sussende effek kan normatiwiteit genoem word.

Christi van der Westhuizen

Wanneer geslagsgeweld bespreek word, is daar steeds ’n dominante diskoers wat probeer suggereer dat die fout by die vroulike slagoffer gesoek moet word. Die klere wat sy aangehad het, of die woorde wat by haar mond uitgekom het. Kortom, sy het nie haar “plek” geken nie, vandaar dat ’n man gewelddadig gereageer het.

Dié diskoers poog om geweld teen vroue te normaliseer, en bevestig daarmee vroue se minderwaardigheid as mense wat beskikbaar moet wees vir selfs gewelddadige “betigting” deur mans.

Die herhaalde goedpratery van die herhaalde geweld fokus op vroue, maar dien eintlik as ’n herbevestiging van die gewaande superioriteit van mans.

Wanneer oor lesbiese en gay seksualiteite gepraat word, is die klem dikwels net op die nie-normatiewe seksualiteit. Daar word vergeet dat seksualiteite, soos geslagte, in verhouding tot mekaar geskep word. Dus, homoseksualiteit kan slegs in verhouding tot heteroseksualiteit bestaan, as deel van ’n binêre seksuele stelsel wat in die 19de eeu geskep is.

Wanneer ’n mens heteronormatiwiteit by die stryd oor die beskerming van verhoudings inbring, kry jy ’n voller prent van wat sommige mense probeer beskerm.

Jare gelede het ’n formidabele ouer predikant van Uganda vir my gesê dat sy land se staatshomofobie ’n poging is om ook vroue op hul “plek” te sit.

Verpligtinge moet in ’n lesbiese of gay verhouding onderhandel word: aannames kan nie op grond van geslag afgedwing word nie.

As ’n aktivis vir die erkenning van queer regte in Uganda was hy ongewoon omdat hy heteroseksueel was. Dit het hom ’n waardevolle perspektief gegee op die uitwerking van die staatsvervolging van lesbiërs en gays ook op straight mense in daardie land.

Die groter sigbaarheid van lesbiese en gay verhoudings stel ’n ander model van gender-verhoudinge ten toon. Wanneer twee mans in ’n intieme verhouding is, wie speel tweede viool?

Dieselfde met lesbiërs: Wie kook kos en maak kinders groot, dikwels tussendeur gewone werk? En van wie word outomaties verwag om te werk, maar darem met tonne ontspanningstyd as vergoeding, soos die statistieke wys?

Verpligtinge moet in ’n lesbiese of gay verhouding onderhandel word: aannames kan nie op grond van geslag afgedwing word nie.

Dié verhoudings demonstreer ander moontlikhede: ’n man kan sogenaamde meer “vroulike” pligte vervullend vind, en ’n vrou kan onafhanklik besluit wat sy met haar lewe wil maak.

Pogings om wetlike erkenning van lesbiese en gay verhoudings te bemoeilik, terwyl intieme geweld teen vroue volgens aanduidings die hoogte inskiet, wys hoe belangrik die gesinsfeer steeds is vir die uitoefening van onregte om geslags- en seksuele ongelykhede te handhaaf.

* Van der Westhuizen is medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie aan die Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.