Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mag wit mense nog praat?

Vandeesweek is daar weer in die parlement uit EFF-geledere gehoor dat wit mense nie mag praat nie. Hoe geldig is dié argument? vra Christi van der Westhuizen.

Julius Malema, leier van die EFF, het in die parlement gesê wit mense mag nie praat nie. Foto: Argief

Suid-Afrikaners se verknogtheid aan ras het die afgelope paar weke in verskeie openbare forums weer kop uitgesteek.

Ons gebruik ras om sin te maak van alles, om mekaar swart óf wit te smeer, om die aandag van ander kwessies af te lei en, natuurlik, bowenal om fantasieë van meerderwaardigheid te projekteer.

Te midde hiervan word die eis telkemale gestel: Wit mense mag nie praat nie. Julius Malema se aandrang daarop vandeesweek in die parlement is slegs die jongste voorbeeld. Dit is ’n eis wat telkens byvoorbeeld in besprekings by universiteite gestel word, spesifiek sedert die #RhodesMustFall-beweging van 2015.

Gegewe die land se geskiedenis, is dit ’n geldige vraag: Mag wit mense legitiem aan die nasionale gesprek deelneem?

Een van die benaderings tot die vraag is om daardie verknogtheid en ons verwante maneuvers van naderby te bekyk.

Moet die skree van ‘rassis’ die aandag aflei?

Studente by Wits wat aan #FeesMustFall-betogings deelgeneem het. Foto: Argief

As ’n mens die onmiddellike konteks bestudeer waarin só ’n eis gestel word, is dit soms ooglopend waarom witheid in ’n sekere oomblik geopper word. Die voorval in die parlement is ’n sprekende voorbeeld.

Die DA het die VBS-skandaal geopper, en EFF-LP’s het gereageer deur “rassiste, rassiste” te skree. Dit het Malema die geleentheid gegee om te sê wit mense mag nie praat nie, wat gelei het tot Agang-LP Andries Tlouamma se beswaar teen sy eis, en die daaropvolgende onderonsie.

Malema se stelling as deel van sy uitlatings dat hy hom “nie aan witheid sal onderwerp nie”, is uiteraard geldig. Maar die belediging van “rassis” wat uitgerol word die oomblik wanneer beweerde korrupsie geopper word, is ’n doodgewone opportunistiese poging om die aandag af te lei. Dit is verstaanbaar, want die VBS-gemors kan die eerste kraak wees wat uiteindelik die EFF-boot kan laat sink.

Daarom sal die EFF, as party wat by uitstek rassepopulisme as deel van sy politieke repertoire gebruik, in daardie oomblik die defleksie van ras aanwend. Dieselfde maneuver deur EFF-studente en verwante organisasies word op universiteitskampusse gesien, soos op my onlangse boekbekendstelling by die Universiteit van Johannesburg.

’n Lang monoloog, gepaardgaande met dreigende gedrag, word as deel van ’n soort politiek van kaping en ineenstorting gelewer. Dus, die spreekruimte op die geleentheid (of dit nou ’n seminaar of wat ook al is) word tot op die punt van ineenstorting gekaap en oorheers.

Deel van die kapingsretoriek is dan ook dat 'wit mense moet stilbly'. Die gelykstelling van alle wit mense met 'rassiste' vorm die kern van die retoriek.

Die oorspronklike doel word van die tafel gevee en die geleentheid dien uiteindelik as platform vir die kapers om hul agenda op die gehoor af te druk.

Deel van die kapingsretoriek is dan ook dat “wit mense moet stilbly”. Die gelykstelling van alle wit mense met “rassiste” vorm die kern van die retoriek. Wit mense word gereduseer tot ’n homogene groep, wat almal in hul “kern” rassisties is.

Hierdie is tipiese essensialisme, wat intrinsiek tot die rasselogika is. Op grond van ’n individu of groep se voorkoms word spesifieke, gewoonlik negatiewe waardes, aan daardie groep of persoon toegedig wat inherent en onveranderlik is.

Die slotsom wanneer ’n groep of ’n individu onveranderlik negatief is, is dat daardie groep of individu verwyder moet word. In sy uiterste vorm, het dié soort denke byvoorbeeld tot die Nazi’s se “finale oplossing” vir die bestaan van Joodse mense aanleiding gegee. Dit wys die gevaar daarvan.

Soms word op só ’n kapingsoomblik die gedagte aan verwydering pertinent geopper, dus, dat wit mense hulself uit die universiteit of uit die land moet verwyder, of verwyder moet word.

Eksklusiewe swartheid en onversetlike witheid

Christi van der Westhuizen

Soos wat dié denke witheid as ’n essensie skep, só word swartheid ook as ’n essensie geskep. Hierdie retoriek speel tans in Suid-Afrika uit as die bevordering van ’n eksklusiewe swartheid waarin mense wat onder apartheid as “Kleurling” of “Indiër” gekategoriseer was, nie kan deel nie.

Dus is dit ’n voorbeeld van ’n eng swart nasionalisme wat, in sy uiterste vorm, ’n “suiwer” swart land najaag. Die aandrang op stilswye by wit mense lyk eintlik daarom soos ’n fantasie van ’n land sonder wit mense.

Dit is noodsaaklik om te onthou dat die eng swart nasionalistiese posisie nie uit die bloute verskyn nie. Dit is ’n teenreaksie van sommige swart mense op ’n wit meerderwaardigheid wat blyk om deesdae selfs meer onversetlik te wees.

Een van hordes voorbeelde is die Praat Saam-debat op RSG oor rassekategorieë waaraan ek vandeesweek deelgeneem het. ’n Luisteraar stuur ’n SMS om te verklaar dat hy of sy “trots” die “wit”-blokkie op vorms merk, want hy of sy is “trots blank”. Om in die konteks van Suid-Afrika se geskiedenis van geweld en deprivasie weens wit opperheerskappy “trots blank” te wees is ’n klap in elke swart mens se gesig.

Om enigsins ’n etiese lewe te kan lei het elke wit mens ’n plig om by te dra tot ’n land wat ekonomies en sosiaal inklusief is.

Die heropstuwing van hierdie onversetlike witheid is een van die redes waarom wit mense nie dúrf stilbly nie. Dit is ons plig om mekaar aan te tree wanneer belaglike en aanstootlike fantasieë van wit meerderwaardigheid kop uitsteek.

Nóg ’n rede is dat hoewel nie alle wit mense vandag aktief rassisties is nie, almal wel onregverdig by witheid gebaat het. Om enigsins ’n etiese lewe te kan lei het elke wit mens ’n plig om by te dra tot ’n land wat ekonomies en sosiaal inklusief is.

Laastens is dit wit mense se plig om die Grondwet te help verwesenlik, veral die oproep tot menswaardigheid, ná die verontmenslikende stelsels wat ons voorsate afgedwing het. Dit beteken aktiewe deelname in die openbare sfeer, veral ook om die rasselogika wat wit mense se toedoen is, stelselmatig teen te werk en af te takel.

Maar, hoewel wit mense om al hierdie redes nie mag stilbly nie, moet ons ook weet dat ons dikwels meer moet luister as praat.

Dit is die balans tussen praat en luister wat uiteindelik daardie giftige rasseverknogtheid ongedaan kan maak, en moontlikhede van vermensliking vir almal hier ter plaatse kan oopmaak.

* Prof. Van der Westhuizen is ’n genoot by die Democracy Works-stigting.

Meer oor:  Julius Malema  |  Christi Van Der Westhuizen  |  Andries Tlouamma  |  Witheid  |  Swartheid  |  Rassisme  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.