Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maimane en die olifant wat loer

Daar is ’n ou kindergrappie wat lui: “Hoe weet jy daar is ’n olifant op jou rug? . . . Jy ruik sy grondboontjie-asem.” Wat Dawie toe vandeesweek laat wonder of Mmusi Maimane, DA-leier, darem nou al ’n grondboontjie-klankie kry van die allemintige olifant wat vir hom sit en loer.

Dawie

“Watter olifant?” hoor Dawie die leser vra. Wel, Maimane ontgeld dit nou vanuit sy eie party met allerlei be­werings oor ’n huurhuis en ’n voertuig wat deur Steinhoff geborg is. Hy ontken dat hy enigiets onbehoorlik gedoen het en sê dit is bloot ’n smeerveldtog deur sy kollegas wat ontevrede is met die verandering wat hy na die party wil bring. En hy sal terugbaklei, sê hy.

Maar só eenvoudig is dit nie, want soos Dawie die politiek ken – waar jou teenstanders oorkant jou sit en jou vyande agter jou – is dit nie die einde van die aanslag op Maimane nie. Én die bewerings is eintlik ook maar simptomaties van ’n dieper probleem.

Maimane moenie verbaas wees as sy gesag in die party uitgedaag word nie. Vanjaar se algemene verkiesing was die eerste waarin die party nie daarin kon slaag om sy steun uit te brei nie – trouens, hy het agteruitgeboer.

Natuurlik het die Cyril-faktor die ANC ter elfder ure te hulp gesnel, maar die feit bly staan die DA moes volgens sy eie mikpunte veel beter gevaar het.

Met die ANC teen die toue moes hy die uitklophou geplant het. Hy het egter nie daarin geslaag nie omdat hy van sy konserwatiewer wit kiesers vervreem het én nie daarin kon slaag om die verbeelding van die ontnugterde hoofsaaklik swart wegblystem aan te gryp nie.

Met die munisipale verkiesings van 2021 wat vinnig nader kom, voorspel dit niks goeds vir die DA nie.

Interne spanning in die DA is nie goed bestuur nie, en die party het ’n prys betaal vir sy lomp poging om Helen Zille se kolonialisme-twiet te gebruik om politieke kapitaal vir Maimane te probeer wen.

Die openbare twis om die kop van die destydse Kaapse burgemeester Patricia de Lille is hopeloos bestuur deur Maimane en sy leierskap en dit het die party nog verder vertroue onder bestaande en potensiële ondersteuners gekos.

Feit is dat Maimane die partyleier is en pa sal moet staan. Die neem van verantwoordelikheid moet dan opgevolg word met ’n duidelike aksieplan om verlore veld in te haal.

Hiervan sien Dawie min, maar eerder baie bravade by Maimane. Hy praat van terugveg; van die visioenêre veranderings wat hy wil deurvoer, maar weet die kieser wat hierdie veranderings is? Weet sy koukuskollegas?

Feit is dat die interne kohesie in die DA – samehangend met sy eie sukses om die mees veelrassige party in Suid-Afrika te word – taamlik broos geword het. Op sy liberale wortels staan nou geënt die oorblyfsels van die Natte, strominge aan die regterkant van die politiek, en aansienlike nuwe swart steun onder wie heelparty ontnugterde ANC’s. Twee verskillende vorme van liberalisme word boonop aangehang – die liberalisme van die ou Progge, en dít wat Maimane oënskynlik dryf as ’n meer “pragmatiese liberalisme”.

Dawie let ook op die party posisioneer hom al hoe minder as ’n “sterk opposisie” of “alternatiewe regering” soos vroeër, en al hoe meer as “geloofwaardige koalisievennoot”. Vir diegene wat onverbiddelik glo in die DA se streng liberale beginsels – self al beteken dit jy bly ’n klein maar beginselvaste opposisie na die beeld van ’n Helen Suzman – moet dit ’n baie bitter pil wees.

Diverse beskouings in ’n party kan wel ’n krag wees, maar dan moet die partyleier uiteenlopende elemente kan saamsnoer agter ’n gedeelde visie. Kennelik slaag Maimane nie hierin nie.

Met die munisipale verkiesings van 2021 wat vinnig nader kom, voorspel dit niks goeds vir die DA nie. Maar dís wat gebeur as jy jou naeltjie begin betrag en van die kiesers vergeet.

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Uit My Politieke Pen.Da-Leier  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.