Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maimane toe net ’n ‘marionet’
Gert Coetzee

Daar bedank Mmusi Maimane toe Woensdag as DA-leier. En spekulasie oor óf John Steenhuisen óf Alan Winde as opvolger loop dadelik.

Eers terug na die begin. In Mmusi Maimane, Prophet or Puppet? (2016) skryf S’thembiso Msomi (toe van Sunday Times) oor die verwarring onder joernaliste toe Helen Zille op ’n nuuskonferensie in 2011 die onbekende Maimane as die DA-kandidaat vir burgemeester van Johannesburg voorgestel het. “Wie?!” het hulle uitgeroep.

Msomi self het Zille nie ernstig bejeën nie toe sy verklaar het Maimane gaan nog ’n “huishoudelike naam” word. “Hy was ’n politieke nuweling: dit het gelyk of niemand al van hom gehoor het nie. Hy het alom gelyk as te liggewig om geloofwaardig te wees as die man wat die ANC sou aanvat . . .”

Die eintlike vraag wat Msomi in sy boek gestel het, is of Maimane ’n politieke opportunis is wat in die DA net ’n geleë voertuig gevind het. Die party het ’n vraag gehad aan wat sy vermeende aanbod was – ’n dinamiese, beginselvaste leier wat die DA tot ’n waardegedrewe politieke tuiste oor kleurgrense heen sou kon saamsnoer.

In sy boek bespiegel Msomi dat as Maimane van nêrens as politikus tot die ANC – pleks van die DA – toegetree het, dit hoogstens op die vlak van ’n jeugleier sou wees. En as Maimane met Julius Malema vergelyk word, hy in politieke statuur sleg daarvan af kom.

In 2015 is Maimane as leier van die DA gekroon, juis onder Zille se seënende hand.

Wel, Maimane het nié burgemeester van Johannesburg geword nie, maar ná meteoriese opgang is hy in 2015 as leier van die DA gekroon, juis onder Zille se seënende hand. As leier van die opposisie (wat grootliks tot die regstryd teen Jacob Zuma en grondwetlike verskansing bygedra het), het hy eers beïndruk. Sy “A broken man presiding over a broken country”-toespraak oor Zuma was die moment wat Zille later oortuig het hy was die regte keuse.

Toe kom die wiele af. Die DA krimp vanjaar met 2% en kry ook in plaaslike verkiesings pak. Met wit steun wat aan die VF+ toegesê word onder meer weens misnoeë oor ras-uitsprake.

Al meer probleme in sy eie party rondom Maimane is geopper (soos Rapport daaroor begin berig het). Nou is Zille terug as die DA se federale raadsvoorsitter en eers Herman Mashaba, suksesvolle DA-burgemeester in Johannesburg, en toe Maimane en Athol Trollip het bedank. Met Maimane en Mashaba wat solidariteit betuig. En sprake dat ’n wegbreekparty met swart leiers gaan kom.

Dit raak ook – g’n verrassing nie – ’n kwessie van verdeling tussen swart en wit. Die transformasie van die DA wat Maimane moes deurdryf, misluk. Verdeeldheid oor benadeling op grond van ras is die diepliggende geskilpunt.

In sy boek is Msomi se slotsom dat vir Maimane om te bewys hy is nie ’n marionet nie, maar “die man in beheer”, hy die DA sou moes uitbou as al party groot genoeg is om die ANC aan te vat en as “’n party vir almal”.

Wel, dié uitspraak is nou besleg. En die jeremiade dat eintlik teen Maimane gediskrimineer word, illustreer die DA se dilemma in sy poging om Suid-Afrikaners onder een waardesambreel te wil saamtrek.

In ’n hoofartikel sê Sowetan (22.12) nie-rassigheid is ’n noodlottige knou toegedien en die DA kan weer ’n wit party word. En rubriekskrywer Carol Paton stel dit ook raak dat wat baie huishoudings, veral swart, nou sien is ’n geval van ’n swart man wat deur ’n wit vrou op sy plek gesit word.

Só staan sake nou – buiten om die DA se lotgevalle te volg. Ander keuses: na links ANC en EFF; na regs VF Plus.

Transformasie sal eers deurgevoer wees as daar ook reguit sprake kan wees van ’n onopgewasse politieke opportunis wat nie huiwer om die ras- en slagofferkaart te speel nie.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Mmusi Maimane  |  Da-Leier  |  Marionet  |  Da  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.