Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Malema amper reg oor taal, tog kyk hy baie mis

Julius Malema is reg as hy in sy honneursskripsie aanvoer dat Afrikaans gebruik word om wit heerskappy te laat voortbestaan in Suid-Afrika.

Soms, deur sommige, in sommige kontekste. Ons kan dit nie ontken nie. Maar hy is verkeerd as hy miskyk dat Afrikaans terselfdertyd as bemagtigingsinstrument vir nie-wit sprekers dien, verkeerd as hy hom blind hou vir Zoeloe se rol in die handhawing van die heerskappy van die huidige septerswaaier, en veral verkeerd in sy aandrang dat Afrikaans moet val,
oftewel: verder moet val.

As Malema mý student was, sou ek verwag het dat hy ten minste kennis neem van alternatiewe sienings en interpretasies. Ek sou begin het deur hom te verwys na prof. Mahmood Mamdani, ’n internasionale kenner oor dekolonisering, se onlangse TB Davie-lesing by die Universiteit van Kaapstad. Mandani het vir konsternasie gesorg toe hy sy gehoor reguit in die oë gekyk en onomwonde verklaar het:
“Afrikaans is die suksesvolste dekoloniseringsinisiatief op die Afrikakontinent.”

Daar was ’n gelag en geskuifel, ’n gemor en gefluister, maar Mamdani het voet by stuk gehou. Dit is geen oordrywing nie, het hy beklemtoon. Ferm het hy mense herinner dat Afrikaans in minder as ’n halfeeu dit kon regkry om te vorder van kombuistaal tot ’n draer van wetenskaplike en akademiese diskoers, tot regstaal, vaktaal en kultuurtaal.

Maar hy is verkeerd as hy miskyk dat Afrikaans terselfdertyd as bemagtigingsinstrument vir nie-wit sprekers dien.

Hy het uitgestippel hoe dit moontlik gemaak is deur die beskerming en ondersteuning van groot institusionele netwerke, insluitend skole, universiteite, koerante, tydskrifte en uitgewershuise.

Hy het dit opgevolg met ’n verdere barshou: Dit is ’n model wat nageboots moet word en dit is ironies dat die regering van ’n onafhanklike Suid-Afrika dit nie gedoen het nie.

Die Afrikaanssprekende kenner van taalpolitiek Neville Alexander was een van die akademici na wie Mamdani verwys het in sy lesing oor die dekolonisering van postkoloniale universiteite. Ook het hy hom beroep op die Keniaanse skrywer Ngugi wa Thiong’o se insig dat die beginpunt van dekolonisering nie geopolitiek is nie, maar taal.

Die projek van dekolonisering móét ’n veeltalige projek wees, het Mamdani vervolg. Ons kan nie in die naam van globalisering nalaat om ons eie realiteite in ons eie tale te teoretiseer nie. Die ware gedekoloniseerde universiteit verskaf opvoeding in meerdere tale en handhaaf lewende intellektuele tradisies in tale van hier.

Het Mamdani dit gehad oor die toekoms van Afrikaans? Nee, natuurlik nie. Sy voorstelle het gehandel oor die vestiging van navorsingseenhede wat op die Nguni- en Sotho-tale fokus. Maar sy uitdruklike waarskuwing dat die Afrika-universiteit op sowel die lokale as die globale moet let, het implikasies vir alle universiteite wat met Engels dweep terwyl hulle kastig
Afrikanisering predik.

Wat die honneurstudent Malema miskyk en wat die professor verstaan, is dat dit nie Afrikaans is wat moet val nie. Dit is Engels.

Vir studente, dekane en rektore wat dit nie kan insien nie, het Mamdani harde woorde gehad. Hulle is volgens hom niks meer nie as modeslawe, mimiek-kunstenaars en hoëkoste-karikature.

Daarby sou ’n mens kon voeg: Hulle druip dekolonisasie 101.

Meer oor:  Julius Malema  |  Sonja Loots  |  Die Ander Kant  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.