Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Malema het hier ’n grens oorskry

Kom ons begin met twee verwante gedagtes. Een: Politiek, só het ek al dikwels geskryf, is nie vir sissies nie. Twee: ’n Amerikaanse spreekwoord lui: “As jy nie die hitte kan verdra nie, bly weg uit die kombuis.”

Leopold Scholtz

Selfs op die beste tye is die openbare politieke diskoers heftig en driftig. Genade is nie iets wat jy sommer kan verwag of gee nie.

Baie is immers op die spel, want dit gaan om die politieke mag, aansien, invloed, respek, om – durf ’n mens dit sê? – geld in jou sak.

Tog . . . ’n Goed funksionerende demokrasie verg dat daar ’n – toegegee, vae – lyn is wat liefs nie oorgesteek moet word nie. In ’n demokrasie kry mense van uiteenlopende oortuigings en groepe mekaar vroeër of later nodig, en as jy jou opponente te veel persoonlik beledig, maak dit daardie samewerking des te moeiliker.

Daarom is dit onverstandig dat pres. Donald Trump sy Demokratiese opponent, Joe Biden, afskilder as seniel, as iemand wat skaars weet dat hy bestaan. (Trouens, as jy na Biden se toesprake luister, hoor jy iemand met wie jy kan saamstem of verskil, maar wat wel ’n skerp verstand het. Maar dit vir eers daar gelaat.)

Op die ruimtes vir lesersdebat onder berigte en artikels op Media24 se webwerwe word daar ook dikwels gruwelik beledig en geskel. Een deelnemer, met die voornaam Pieter, word byvoorbeeld gereeld minagtend bygekom met die beskrywing “Pietie p**p**” – uiteraard sonder die sterretjies.

Diegene wat die vernielings aangerig het, skuldig aan verskeie wetsoortredings.

Dit sê natuurlik meer van diegene wat die beledigings so rondstrooi as dié wat beledig wórd. Maar ten minste bly dit by woorde.

Dit word anders as die woorde tot dade lei. Of, meer presies, geweld. Dit het vandeesweek gebeur toe EFF-aanhangers verskeie winkels van Clicks op bevel van die party se diktator, Julius Malema, aangeval en verniel het.

Die aanleiding was ’n Clicks-advertensie waarin swart vroue se hare as “dry & damaged” en “frizzy & dull” beskryf is, en dié van wit vroue as “fine & flat” en “normal”.

Nou kan ’n mens sekerlik ’n debat op verskeie vlakke voer oor die vraag of Clicks se advertensie verstandig was. Het Clicks nou werklik gedink hy gaan klante – veral swart klante – op dié beledigende manier werf?

Maar die korrekte manier om daarteen in opstand te kom is allereers om ’n regstreekse gesprek met Clicks se grootbase aan te gaan en hulle te vra om die advertensie te onttrek. Slaag dit nie, kan jy die saak in die media aan die groot klok hang, en as uiterste middel kan jy die publiek selfs tot ’n verbruikersboikot oproep.

Julius Malema moet hard, duidelik en onomwonde in die bek geruk word.

As Clicks in sy sak geraak word, moet jy sien hoe vinnig hy kleinkoppie trek. Maar die grens – in dié geval ’n haarskerp grens – is by geweldpleging en aanmoediging daartoe.

In die eerste plek is diegene wat die vernielings aangerig het, skuldig aan verskeie wetsoortredings, en as die polisie sy sout werd is, sal hy die skuldiges so vinnig moontlik identifiseer en aan die vervolgingsgesag oorhandig om voor ’n hof aan te kla.

In dié geval is ’n verdere stap ewenwel nodig. Malema moet hard, duidelik en onomwonde in die bek geruk word. Dit kan nie bly by politieke uitsprake dat hy darem lelik gemaak het nie. Hy het die wet oortree en moet, nes die vernielers, aangekla word.

Sondag het Malema se twiet geen twyfel gelaat nie: “@Clicks_SA see you tomorrow. Fellow fighters and ground forces; ATTACK!!!”

As woorde hoegenaamd betekenis het, is dít ’n oproep tot geweld. Daarmee het Malema ’n grens oorskry wat tot straf móét lei as ons demokrasie ’n kans wil hê om te oorleef.

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Clicks-Advertensie  |  Misdaad  |  Geweld  |  Politiek  |  Betoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.