Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Malmesbury se versugtinge

’n Mens het dit nie juis van rustige, dolende Malmesbury verwag nie.

Toe die Vlug van die Swartland voorverlede Vrydag vinnig in die media rugbaar raak – dat ’n somtotaal van 69 tronkgangers op ons eie Malmesbury by die tronk uitgepeul en die strate, ook die skool se sportvelde, vol laat spaander het – het my gedagtes die Middeleeue in teruggetuimel.

Die toeval was immers nét te groot. Twee onbesonne pogings om op die vlug te slaan, is beide op ’n dorp genaamd Malmesbury gemaak. Die een het naby die suidpunt van Afrika afgespeel en die ander, digby duisend jaar vroeër, in Engeland se suide.

Maar die versugting na vryheid – hoe grondeloos ook al – smee dié ewe eksentrieke eksperimente heg aan mekaar vas.

Die monnik Eilmer het teen 980 n.C. sy eerste lewenslig gesien.

Toe hy moes rigting kry, word hy ’n lid van die geestelike gemeenskap wat rondom die abdy op die dorp Malmesbury in Wiltshire gevorm is.

In die skadu van die kerk se spits toring, wat die rigting boontoe, God en die ewigheid toe, aangestip het, was daar ’n besige markplek waar dit, dat en allerlei van die hand gesit is.

Beide sy bene is vergruis en sy loop is van toe af moeitevol en hortend. Sy verklaring vir sy teëspoed? Hy’t stertpluime oor die hoof gesien.

Terwyl ek die beeld van kruike wat oorloop en kase wat uitdy voor my geestesoog oproep, wonder ek of daar per geleentheid ’n Slimjan met ’n Taljaanse aksent hinkepink dáár opgedaag het en met ’n wissel, ’n voortydse tjek, vir sy negosieware probeer betaal het.

“Wat vir ’n ding is dit? Jy wil ons seker met jou uitlandse streke kom be­goël.”

Maar waar Eilmer die Heilige langs ’n betraande kers in sy donker sel sit en skrywe het, was daar by hom ook buitenissige gedagtes aan’t uitbroei.

Een van sy meer markante bemoeienisse was die astrologie. Leeus en visse en tweelinge.

Ook was hy ruim en diep in die oudtydse mitologie onderlê. Een figuur deur wie hy veral gesjamaanneer is, was Ikaros, die seun van Daedalus, wat sy rug bevlerk en hom die vryheid van die voël probeer aanmatig het.

William van Malmesbury, dekades later lid van einste klooster en vername geskiedskrywer, sou van sy voorganger se “sonderlinge waagstuk” vertel.

Op ’n dag toe die lug vol helder wolke lê, het hy aan sy hande en aan sy voete vlerkkontrepsies geprakseer. Al wapperende het hy ’n toring – tekenend nié die kerk s’n nie – trappie vir trappie hemelwaarts bestyg.

Bo gekom, maak hy sy droë lippe met ’n nog droër tong nat, gaan staan hy op die toring se lip. Met Ikaros se lot aan die vergetelheid toevertrou, lanseer hy hom opnuut hoopvol die oopte in.

Sy arms en bene vou oop en al wat vasgelymde veer is waai diekant toe en daai. Tweehonderd meter van sy ambisieuse vertrekpunt af kom hy, ’n elegante draai later, die aarde tegemoet.

Beide sy bene is vergruis en sy loop is van toe af moeitevol en hortend. Sy verklaring vir sy teëspoed? Hy’t stertpluime oor die hoof gesien.

Ewe ambisieus en ewe gedoem blyk die plan by nabetragting te wees wat die laaste hoeveel weke in ons eie Malmesbury se kerker beraam en bewimpel is.

Sekerlik was daar ’n Spartacus wat sy medeprisoniers met sy welsprekendheid aangehits en begloed het. Wat gesorg het dat 69 manne met vreemde muntstukke dié Swartlandse dorp se strate deur uitgewaaier het, met die droë smaak van vryheid in hul mond.

Soos vir Eilmer was vryheid nie vir húlle beskore nie. Soos hy, is hulle presies waar hulle voorheen was, net met ’n swaarder hinkstappie as ooit tevore.

Baie van ons het ook ’n klap Malmesbury weg en wonder daagliks: Waar is dié doolhof se deur?

Meer oor:  Jean Meiring  |  Malmesbury  |  Ontsnapping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.