Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mandela-stigting gryp in waar ANC misluk

Dit was met ’n sug van verligting dat ’n mens gesien het hoe die Nelson Mandela-stigting vandeesweek teen Jacob Zuma lostrek oor die kultuur van straffeloosheid wat hy twee dekades lank om hom aangemoedig het.

Barnard Beukman

Die stigting het die misdadiger ook gestriem oor sy bereidwilligheid om geweld en wetteloosheid aan te moedig om sy persoonlike agendas te bevorder – ook volgehoue minagting van die reg.

Dit in skrille kontras met ’n week lange lang-gesig-ANC oor “die moeilike tyd” waardeur die kamerade glo nou wroeg. Dit omdat Zuma telkemale hul paaibeleid jeens hom met minagting in hul gesig teruggegooi het.

Ook Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste wat in ’n o-tog-so-somber atmosfeer voor die Estcourt-tronk – dalk ’n nuwe monument vir die groot omdraaislag in Suid-Afrika – staan en kwytraak dat Zuma se opsluiting geen oomblik is om oor te juig nie. Snert.

Vandag is Suid-Afrika op ’n veel beter plek as slegs ’n week of twee gelede. Regsekerheid oor die karakter van ons grondwet­like staat is sterker as ooit. Gelykheid voor die reg is stewig ingekap en dit geld ook vir Zuma, Ace Magashule en kie. Dit is rede­ om te juig en fees te vier. En uiteindelik het Carl Niehaus, nog ’n aanstoker tot onwettig­hede, hom ook vasgeloop. Belangrike wiele draai.

Daarom is dit onverskoonbaar dat pres. Cyril Ramaphosa die afgelope week geswyg het. As staatshoof kan hy nie net terugsit en alles aan die regbank en ’n verwarde polisiediens oorlaat nie.

Dit was en is steeds nodig dat hy met hart en siel verklaar wat die stigting toe verklaar het voordat die spreekwoordelike klippe uitgeroep het. Dit is nodig op sy vlak. Die vae “almal is gelyk voor die reg, maar ons bly Zuma ondersteun” is onaanvaarbaar en lewer geen bydrae tot die nuwe vlak van regsekerheid wat desondanks die ANC vorm nie.

Polities is dit wel ’n baie goeie week vir hom en sal hy ten minste heimlik bly wees oor die afgelope week se gebeure. Die radikale ekonomiese transformasie-bende het nie net met ’n volle aanslag teen die staatsorde gekom nie, maar ook teen hom. Hy moet krediet kry daarvoor dat elemente van sy (te) lang pad begin vrugte afwerp. Hy sal die week seker daarop wys dat skilpad hasie toe eindelik gewen het.

Krediet kom hom wel toe daarvoor dat hy bly vasskop het oor juis die regstaat, uitroei van korrupsie en die staatskapers in eie geledere. Sy finale geduld het hy juis vroeër vanjaar verloor toe hy die ANC tereg as “beskuldige nommer een” verklaar het. (Nou het die ANC ons ’n gevangene Nommer Een ook verskaf.)

Alle aanduidings en hoop is dat Ramaphosa nou die nodige momentum kan opbou om vir eens te doen wat nodig is om die land van ’n mislukte staat te red. Dit sluit in dat ons nie meer weke­ lank kan toekyk hoe met geweld gedreig word en ’n absurde sirkus met staatsbronne ontstaan elke keer as ’n ANC-hooggeplaaste aangekeer word nie – daar kom nog baie van hulle.

Hy moet ook die inentingsprogram verdere momentum gee, gesondheidsdienste en dienslewering regruk en ekonomiese vertroue bevestig.

Ironies. Die eertydse Nasionale Party het ondergegaan, hoewel hy die hervormings weg van apartheid deurgevoer het.

Dus, al het Ramaphosa sukses om ons op ’n wenpad te plaas, is die ANC die moreel bankrot wurm wat moet sterf sodat die skoenlapper van ’n wenland gebore kan word. Dit het hul optrede vandeesweek finaal bewys.

  • Beukman is Beeld se redakteur.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.