Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Mans deel nog steeds die lakens uit’

Vir mans om toe te gee dat hulle miskien steeds voordeel trek uit ’n samelewing wat deur mans oorheers word, beteken nie dat hulle ineens getransformeer word tot lammetjies wat ter slagting gelei word nie, skryf Nico Botha.

Nico Botha

Met samelewingsvraagstukke is dit anders as met stokperdjies.

’n Stokperdjie is ’n soort liefhebbery waaraan ’n mens jou sogenaamde vrye tyd bestee. Wie dan verveeld raak met só ’n tydverdryf, kies maklik ’n ander een of hou daarmee op.

Met die groot kwessies in die samelewing is dit anders. Wie hom of haar eenmaal toewy aan ’n saak word lewenslank daardeur besig gehou.

’n Sprekende voorbeeld van só ’n kwessie is die vraag oor hoe mans en vroue ’n samelewing met mekaar deel. Sommige kan vra of dit wel ’n kwessie is.

Hul benadering sou soos volg verwoord kon word: Die samelewing is soos dit is en dinge, dus ook die verhouding tussen mans en vroue, ontvou op ’n normale manier.

Ander kyk weer meer krities na die samelewing en is die volgende mening toegedaan: Alles is nie pluis in die verhouding tussen mans en vroue nie omdat daar wesenlike ongelykhede te bespeur is. Of om dit by wyse van ’n sêding te stel: Die mans deel nog steeds die lakens uit.

In ’n kleinerige gespreksgroep wat elke laaste Vrydag van die maand gehou word en waarby meestal net mans betrokke is, is daar met die laaste twee byeenkomste oor die genderkwessie gepraat.

En die mans het ewe vroom aan die voete van ’n vrou gaan sit om ’n bietjie te hoor hoe sy die uitdagings van om ’n akademikus én ma te wees die hoof bied.

Want die samelewing self openbaar hoe sterkheid, fermheid en die selfgeldingsdrang nie noodwendig in verhouding tot ander mans gestalte kry nie, maar in die verhouding tot vroue.

Wat haar rol as akademikus by ’n vooraanstaande universiteit betref, artikuleer sy die dinge glashelder. Dat sy as bruin vrou, gegewe die geskiedenis van die land en al die skimpe oor “dom bruin vroue”, nie anders kan as om sterk te staan en op te staan vir haar regte nie.

Sy doen dit omdat tersiêre instellings tot ’n groot mate nog ’n manlike domein is. Sy doen dit waarskynlik ook omdat die toenemende kommersialisering van die akademie met die gepaardgaande verburokratisering daarvan ’n identiteitskrisis onder akademici tot gevolg het.

Wat haar rol as ma besonder kompliseer, is die vraag of sy nie met haar aandrang by haar drie seuns dat hulle sterk en ferm en selfgeldend moet wees, juis van die stereotipes versterk wat eerder afgebreek moet word nie. Want die samelewing self openbaar hoe sterkheid, fermheid en die selfgeldingsdrang nie noodwendig in verhouding tot ander mans gestalte kry nie, maar in die verhouding tot vroue.

Mans steeds die groot verwoesters

In die gespreksgroep was daar een eerlike man wat die vraag gestel het of dié dinge waaroor gepraat word nie passé is nie met minstens 15 jaar of meer nie.

In die kerk, en dit was sy mening, is dit tog al anders. In ’n vorige gemeente was selfs 18 van sy 20 kerkraadslede vroue.

Die ander manne om die tafel het eers ’n bietjie wind gesluk voordat hulle weer tot asem gekom het en uit die moed van hul oortuiging die kollega sterk weerspreek het. Wat was hul argument? Dat al sou die hele kerkraad ook uit vroue bestaan en al sou alle mans tuis met alle huishoudelike takies help – een het selfs genoem dat dit sy werk is om partymaal op te skep – verander dit nie ’n sikspens aan die genderongelykhede nie.

Die diepte van die voorbeeld van die lam met die hoofletter is juis dat die aflegging, die dra van die ander se verontregting en onderdrukking, ’n versoende gemeenskap tot gevolg gehad het. In so ’n gemeenskap hoef mans vroue nie op ’n neerbuigende manier te benader nie.

Maar om ruiterlik te erken dat alles nie pluis is nie en om selfs die eie aandadigheid nie te probeer wegsteek nie, hoef nie ’n verlammende uitwerking te hê nie. Vir mans om toe te gee dat hulle miskien steeds voordeel trek uit ’n samelewing wat deur mans oorheers word, beteken nie dat hulle ineens getransformeer word tot lammetjies wat ter slagting gelei word nie.

Die diepte van die voorbeeld van die lam met die hoofletter is juis dat die aflegging, die dra van die ander se verontregting en onderdrukking, ’n versoende gemeenskap tot gevolg gehad het. In so ’n gemeenskap hoef mans vroue nie op ’n neerbuigende manier te benader nie. Meer nog, hulle kan selfs die kritiese kapasiteit gebruik om op ’n geregverdigde wyse aan te toon dat mans nog lank nie die alleenbesit op magswellus, patronaatskap, vraatsug en korrupsie verkry het nie.

Dié waarheid kom daagliks nou in die Afrikaanse media tot openbaring.

Maar al sou dit waar wees dat sommige vroue baie maal op ’n ironiese manier die manlike chauvinisme en seksisme op ’n vernuftige wyse manipuleer om self mag en goed te bekom, word die grootste verwoesting in mense se lewe en in die natuur deur mans veroorsaak.

Hiervan is die Suid-Afrikaanse geskiedenis ’n sprekende voorbeeld.

’n Mens hoop en bid maar dat as die slagspreuk van 1956 hierdie vrouemaand en veral op Nasionale Vrouedag weer opklink (“Wathint’ abafazi wathinti’ imbokodo”); dat die “mbokodo”, die rots nie sal verpletter nie, maar dat daar uit die rots ’n ou lafenissie van ware bevryding en genesing sal vloei vir alle Suid-Afrikaners.

Die stryd het ons uitgemergel.

* Botha is emeritusprofessor in teologie aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nico Botha  |  Geslagsongelykheid  |  Vrouedag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.