Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mans en vroue se woorde deeglik getel

Skryf Annette uit Margate: “Jy sê-vra in ’n vorige rubriek ons moet dink oor hoeveel van die tyd wat ons wakker is, ons op die een of ander manier in aanraking met taal is. Wat is die antwoord?”

In beginsel moet ’n mens onderskei tussen woorde wat jy praat, lees, hoor en skryf.

Een van die oudste mites in die taalkunde is dat vroue meer as mans praat. In die eerste uitgawe van The female brain het die neuropsigiater Louann Brizendine dit onomwonde gestel dat vroue gemiddeld 20 000 woorde per dag uiter, teenoor die 7 000 van mans. Later het dit geblyk dat sy dié brokkie uit ’n boek van die bekende selfhelpghoeroe Allan Pease geoes het, sonder dat daar enige wetenskaplike bewyse daarvoor was.

’n 2007-studie aan die Universiteit van Arizona wou juis hierdie mite ondersoek en het bevind dat Engelse studente gemiddeld 16 000 woorde per dag uiter, met die twee uiterste datapunte 47 000 woorde (’n man) en 700 woorde (’n vrou). Een van die belangrikste bevindinge van hierdie omvattende studie is dat mans en vroue ongeveer ewe veel praat.

Dit beteken natuurlik nie dat ’n mens ál die woorde lees nie, maar dit is wel naastenby die aantal woorde wat deur jou oë raakgesien word.

Met betrekking tot lees, kan ons ons beroep op ’n gesaghebbende studie wat in 2008 aan die Universiteit van Kalifornië (San Diego) gedoen is. Roger Bohn en sy span se projeksie toe was dat ’n mens gemiddeld met 100 500 woorde per dag gekonfronteer word, wat ongeveer gelykstaande is aan een populêre liefdesroman per dag. Dit beteken natuurlik nie dat ’n mens ál die woorde lees nie, maar dit is wel naastenby die aantal woorde wat deur jou oë raakgesien word.

As dit gaan oor kyk en luister, is daar TV, sosialemediavideo’s, prente, foto’s, ensovoorts wat volgens Bohn-hulle gesamentlik ongeveer 34 GG se data daagliks aan jou brein opdis. My skootrekenaar se hardeskyf is 237 GG groot, en ek sal dus binne sewe dae vol wees as al dié inligting geberg moet word. Boonop sluit hierdie berekeninge interaksies in lewende lywe, niedigitale media (soos advertensieborde of woorde wat jy sien terwyl jy inkopies doen) en tyd wat mense aan rekenaarspeletjies bestee, uit.

’n Bekende 1995-studie aan die Universiteit van Kansas het bevind dat driejarige kinders gemiddeld tussen 616 en 2 153 woorde per uur hoor. (Dié studie het bevind dat hoe meer woorde ’n kind hoor, hoe groter sy/haar sukses later in die lewe sal wees, maar hierdie bevinding is wyd gekritiseer.) As ons die gemiddeld ekstrapoleer na ’n 17-uurdag, beteken dit ons hoor ongeveer 23 000 woorde per dag.

Hoeveel woorde skryf ons per dag? Ek kon helaas nie ’n wetenskaplike studie vind om as basis te gebruik nie, waarskynlik omdat te veel veranderlikes ter sprake is (byvoorbeeld die aard van jou werk, of jy tik op ’n rekenaar, selfoon of met die hand skryf, die taal waarin jy skryf, ensovoorts). Alle anekdotiese inligting in ag genome, sou ek skat dat dit ongeveer 2 100 woorde per dag is (gelykstaande aan ongeveer vier bladsye).

Die totaal? Dis moeilik om presies te bepaal, maar ’n konserwatiewe, ingeligte raaiskoot sou wees dat ’n mens gemiddeld 141 600 woorde per dag prosesseer. Dit is een en ’n halwe roman elke dag!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.