Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Manwees en baasskap gaan nie meer saam
Reggie Nel

Die VSA pluk die bitter vrugte van populisme en die flankering met identiteitspolitiek en wapens. Dit is hartseer dat onskuldige mense die prys moet betaal. Erger nog is die reaksie van pres. Donald Trump en sy genote wat bloot hul hande in onskuld was.

Uiteraard kom hierdie verontskuldiging, maar ook die obsessie met wapens, ’n lang pad. Trump en genote beliggaam bloot idees wat ondergronds gaan en dan sporadies gesig wys.

Ons mag nie die invloed van die idee dat manwees met baasskap saamgaan uit die oog verloor nie. Wanneer ’n jong man die wapen opneem in die waan dat hy die wêreld gaan red, moet ons nie te verbaas wees nie. Die gevaar is wesenlik – ook in Suid-Afrika. Die skuif van sentiment na populistiese en nasionalistiese politieke partye – partye met ’n bepaalde fundamentalistiese ondertoon, is ’n teken van ons tyd. Die jong man met sy wapen het nie uit die hemel geval nie – hy is vertroetel, aangemoedig, gevorm en uiteindelik op weerlose mense losgelaat.

Hier is ’n paar lesse: Eerstens sal ons erns moet maak met die boodskap wat ons aan ons jong mense en kinders verkwansel. Watter boodskap stuur ons byvoorbeeld uit as die werkloosheid en marginalisering van ons jeug op die Kaapse Vlakte aangespreek word met soldate en wa­pentuig? Teenoor Trumpisme sal die vorming van waardes soos inklusiwiteit, medemenslikheid en niegewelddadigheid doelbewus gekweek moet word.

Ons mag nie weer in dieselfde strik trap waar dit gaan oor kwessies soos identiteit, kultuur en maatskaplike samehorigheid nie.

Tweedens sal ons die idees en die teologieë agter die populisme en identiteitspolitiek moet blootlê. Teologies-filosofiese besinning is belangrik om te verstaan wat dit is wat spesifieke politieke ideologieë regverdig. Ons mag nie weer in dieselfde strik trap waar dit gaan oor kwessies soos identiteit, kultuur en maatskaplike samehorigheid nie.

Derdens moet ons ons hande diep in eie boesem steek oor leierskap wat steeds op die leuen roem dat manwees met baasskap saamgaan.

Daar is wel ander (beter) stories – verhale van vroue wat ’n ander pad aangedui het. Dit was vroueleiers soos Lilian Ngoyi, Helen Joseph, Rahima Moosa en Sophie Williams en andere soos Ma Albertina Sisulu, Francis Baard, Amina Cachalia en “Ouma Annie” Peters wat op 9 Augustus 1956 sowat 20 000 vroue gelei het en die gevoel in Suid-Afrika gedraai het. Suid-Afrika moes eintlik lank­al ’n vrouepresident gehad het – en die VSA kon nie sy oomblik van waarheid raaksien nie.

Ons het ook die geleentheid in die wyse waarop ons reageer op vroue wat die toon aangee. Ek verwys na die rol van Thuli Madonsela, Caster Semenya, Shamila Batohi, Ferial Haffajee, Desiree Ellis en ons nasionale netbalspan. Kom ons erken ook die rol van vroue wat seuns grootmaak wat hulself nie deur geweld wil laat geld nie; wat kinders leer om alle mense te erken as beelddraers van God – vroue wat gemeentes en gemeenskappe dra.

Hulle is die ware leiers; hulle heel en beliggaam die hoop vir ’n tyd soos hierdie.

  • Nel is dekaan van die fakulteit teologie van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amerika  |  Populisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.