Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Marais was sy tyd vooruit met dierestudies
Erik Holm
Erik Holm

Ek het nou die dag weer ’n slag deur Eugène Marais se Die siel van die mier en The Soul of the Ape gelees en kon net weer my kop skud oor hierdie verbasende mens se skerpsinnigheid.

Marais se biograwe, die vernaamste natuurlik Leon Rousseau met sy Die groot verlange, was deurgaans letterkundiges en het dus veral probeer om reg aan sy letterkundige bydrae te laat geskied. Selfs met al dié erkenning dink ek nie mense besef wat die hele Afrikaanse akademie aan hom verskuldig is nie: Hy het Afrikaans eerste gebruik as regstaal (selfs ’n regshandboek geskryf), filosofietaal en natuurwetenskapstaal.

Maar oor sy biologiese navorsing en bydrae is die oordeel baie ambivalent. Die ambisieuse en magtige Britse dieretuinbioloog Solly Zuckerman het Marais afgemaak as ’n ongeloofbare “drug-ridden alcoholic Boer”. (Marais was, terloops, nooit ’n dronkaard nie). Ook sy plaaslike tydgenote het sy navorsing nogal bevraagteken.

Andersyds het die Nobelpryswenner in letterkunde Maurice Maeterlinck sy Siel van die mier breedvoerig en met groot sukses geplagiariseer. David van Reybrouck­ (De Plaag) het dié plagiaat, wat dikwels betwyfel is, onteenseglik bewys.

As ’n mens vandag Marais se biologiese werke lees, is baie van die feite natuurlik (ná 100 jaar) baie verouderd en lyk van die afleidings naïef.

As ’n mens vandag Marais se biologiese werke lees, is baie van die feite natuurlik (ná 100 jaar) baie verouderd en lyk van die afleidings naïef.

Maar ek het ook ’n ruk gelede Darwin se On the Origin of Species weer gelees en dié lees nog lagwekkender teen wat ons vandag weet. ’n Mens moet sulke historiese pionierswerke lees in die lig van wat destyds bekend was. Glad nie alles wat Marais vertel is sy eie waarnemings nie: Hy verwys ruim na Burgoin se werk (en foute). Maar sy fyn, geduldige waarnemings voeg baie tot die kennis van termiete by: die feromoon-geslagsaanlokking, vinnige neswye kommunikasie, waterskagte en uitmassering van vet uit die koningin in ’n krisis, is enkele van sy oorspronklike waarnemings.

Maar sy groot belangstelling is by wat hy die “siel” noem. Marais gebruik dit in die sin van lewenswil of -krag (wat lewe onderskei van die dooie chemiese materiale waaruit dit bestaan). Hy ontwikkel sy siening daaroor in Die siel van die mier en The Soul of the Ape.

In eersgenoemde lei dit hom tot die insig dat die “siel” in meerselliges ’n verskuiwing van die individuele selle na die saamgestelde liggaam ondergaan. En in kolonies ’n tweede keer van individuele rysmiere na die “superorganisme”-kolonie. Die onderdele (individue) delegeer as’t ware telkens hul siel aan die geheel (die organisme).

Met sy bobbejaanstudies in die vrye natuur (’n leeftyd voor Dian Fossey en Jane Goodall) kom hy tot ’n ander pioniersinsig: intelligente (kousale) gedrag is nie ’n verdere ontwikkeling of evolusie van primitiewe instink nie, maar totaal ’n nuwe orgaan wat instink oorheers en onderdruk.

Hiermee loop hy vandag se algemene kennis van die “gelaagde brein” met dekades vooruit. En is hy ook die absolute pionier van “etologie” (gedragswetenskap) en spesifiek vergelykende gedrag, wat die mens insluit. Wat ’n merkwaardige gees!

Meer oor:  Eugène Marais  |  Dierestudies  |  Navorsing  |  Skrywer  |  Boeke  |  Die Siel Van Die Mier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.