Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Marelize gaan nie man vang nie

Een ding kan ek nou al vir Marelize sê – sy gaan sukkel om ’n man te kry, skryf Erla-Mari Diedericks.

Couple cycling - flat design style colorful illust
Grafika: iStock

Nie omdat sy lelik is of ’n ma het wat vloek nie. Nee, sy is pragtig, ’n ware skoonheid. En wys my ’n ma wat nie gedryf word tot vloek of drank nie.

Marelize gaan sukkel om ’n man te vind, want sy kan nie fietsry nie. So eenvoudig soos dit. Die pad na ’n man se hart loop al lankal nie meer deur sy maag nie. Dit loop tussen sy bene deur na die hart van ’n bergfietssaal – of iets dergeliks.

Ek weet nie van jonger mans nie, maar al wat ’n ouer man is wat ek ken, het ’nfietsmanie ontwikkel en hulle soek vietse fietsryertjies wat saam met hulle die sonsondergang kan binnery.

So hier is ek, iemand wat nog altyd vir ’n bal gegril het, teruggedeins het van enige heuwels, modderpaadjies en rivierstroompies. En daar is hulle: Rye op rye mans wat wil stap, kamp – en natuurlik – fietsry.

Die feit dat ek nog steeds nie weet wanneer om te stop nie, laat my altyd in die moeilikheid beland – maar dis ’n gans ander storie.

Ek het probeer fietsry. At least give me that. Maar ek was ook ’n Marelize en hoewel my ma te godsdienstig was om te vloek, is daar baie op my geskreeu omdat ek die heining aan die onderpunt van ons jaart gereeld aan blare-fladderende flarde gery het.

Ek was vyf, dalk jonger. Die fietsie so ’n stewige driewielnommertjie in room en oranje. Met ’n groot, vet toeter vooraan wat ’n mens kon druk. My modus operandi was basies om aan die bopunt van die jaart te begin wiel en dan reguit in die heining in te donder. Want ek het nie geweet hoe om te stop nie. Die feit dat ek nog steeds nie weet wanneer om te stop nie, laat my altyd in die moeilikheid beland – maar dis ’n gans ander storie.

My tweede fiets was rooi. Kersvader het hom gebring. Ek was ’n bietjie in die gesig gevat oor die twee veiligheidswieletjies agter, maar het so aan’t gille gegaan van suiwer vrees toe my pa die wieletjies afhaal dat dit summier weer teruggesit is.

Marelize sal nog sien. Daar sal baie mans wees wat haar graag wil leer ry, maar wat almal eintlik soek (of so lyk dit vir my) is ’n sportiewe, wielvaardige meisie.

Ek het moed opgegee. Ophou probeer fietsry.

Uiteindelik het sosiale druk my gedwing om weer my fietsryloopbaan te hervat omdat al my vriende die buurt vol gewiel het. Ek het my niggie se groot, swart fiets gekry. Ek was darem al 13 of so, dus het dinge beter gegaan. Maar ná ’n paar hartversakende oomblikke tussen ’n stopstraat, ’n poedel en die een of ander huisvrou op pad terug van Checkers, het ek nooit weer gery nie.

Erla-Mari Diedericks

En raai wat? ’n Mens het nie juis fietsry verder nodig nie. Dalk op varsity, maar dit het my nie afgesit nie.

En so het ek fietsloos deur die lewe gery – tot nou toe. Nou het ek teen ’n muur vasgery waar mans fietsryende meisies soek. Ek kan nie eens meer ’n been oor ’n fiets kry nie.

En daardie vreemde fietsryhelms sal my ook ure vat net om vas te gespe. En met die eerste draai waarom ek gaan, sal ek ’n kransstorting veroorsaak van die gegillery.

Marelize sal nog sien. Daar sal baie mans wees wat haar graag wil leer ry, maar wat almal eintlik soek (of so lyk dit vir my) is ’n sportiewe, wielvaardige meisie.

My f*k, Marelize. Ons sal ons ry moet kry.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Marelize  |  Kaapstad  |  Fietsry  |  Mans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.