Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: Agter elke enkellopende vrou staan ’n bekostigbare nutsman

Die mens is glo nie geskape om alleen deur die lewe te gaan nie.

’n Geloof wat elkeen van ons armsalige alleenlopers nog méér verstote laat voel. As ek ’n rand gekry het vir elke keer dat iemand al vir my gesê het, “Haai foeitog, darem jammer jy’t nie iemand nie,” was ek vandag ’n vermoënde vrou.

Die samelewing wil maar net nie aanvaar dat nie elke pot veronderstel is om ’n deksel te kry nie. Party van ons is panne en ons aanvaar dit so. Dit beteken nie ons droom nie soms daarvan oor hoe dit sal voel om ’n pot te wees nie, maar ons verwelkom ons pan-status.

Wanneer Jerry vir Dorothy in die rolprent Jerry Maguire sê: “You complete me,” kreun ons ook van genoegdoening. Wanneer Melvin in As Good as It Gets vir Carol sê: “You make me want to be a better man,” pink ons ook ’n traantjie weg.

Maar wanneer Melvin vir sy reisgenote tydens ’n motorrit sê: “Party van ons het wonderlike stories, pragtige stories wat afspeel langs mere, met bote en vriende en noedelslaai. Net nie iemand in hierdie kar nie!”, knik ons instemmend.

Die lewe is nie ’n rolprent nie en buitendien, die idee is dalk aanloklik, maar wil jy régtig die een wees wat ’n kortgat- Sciëntologiese Tom Cruise aanvul? Hy’s nie eens lank genoeg om ’n gloeilampie om te ruil nie.

Nee wat, ons enkelinge stap dalk die pad solo, maar wat ons nodiger het as iemand wat sweet nothings in ons ore fluister, is ’n deugsame, maar bekostigbare – die klem op bekostigbare – nutsman. Een wat ’n verstopte skoorsteen kan regsien.

Dis winter, dis koud en die kaggel blaas my huis vol rookwolke. Bertie, ek het sy nommer by ’n buurman gekry, staar lank en deurdringend na die skoorsteen.

“Ek vermoed dis voëlneste, jy sal maar moet opklim,” probeer ek ná tien minute se gestaar die bal aan die rol kry.

Twee dinge besef ek gou, Bertie rook soos ’n skoorsteen én praat onophoudelik. Uiteindelik klim hy teen die wankelende leer op, die huis het ’n geweldige steil dak, sigaret in die een hand.

“Wees versigtig,” waarsku ek benoud.

“Moenie worrie nie,” sê Bertie en steek nog ’n sigaret aan. “Soos ou Leroy in NCIS altyd sê, vroeër jare het mense doodgegaan van siektes en ongelukke, nou gaan hulle dood van . . . moord.”

Bertie praat deurentyd, oor sy gunsteling-TV-programme, sy ma se cholesterolprobleme en sy liefde vir Trump. Daar’s absoluut niks waaroor ons saamstem nie, behalwe sy prys.

Agter elke enkellopende vrou staan daar ’n bekostigbare nutsman.

Niks sal tussen ons kom nie, behalwe moord.

Meer oor:  Maretta Bellingan  |  Klitsgras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.