Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: As daar sulke stopstasies in hemel is, kies ek warmplek

Indien geduld eendag ’n bepalende faktor in haar saligheid gaan wees, het die uwe nie ’n kat se kans nie. Onder haar vele prysenswaardige eienskappe is daar ’n merkbare leemte, een wat sy nie eens probéér verdoesel nie.

Ons het almal ’n swakheid. Naas speaks the English tale not so well, Peter de Villiers sleep ’n streepsak vol suur druiwe met hom saam – en dis net ’n kwessie van tyd voor Faf sy eie hare raaktrap.

En dis net ons rugbyhelde.

Die uwe doen nie geduld nie. Nie op ’n goeie dag nie en nóg minder op ’n slegte dag. Haar vriende teister haar gereeld met die storie toe sy tydens die Wêreldbekersokker in ’n verkeersknoop beland en uit pure frustrasie die landsvlag in haar motor met haar tande verskeur het.

Die eiendomsagent het niks gemeld van die pad, skaars 100 m van haar huis af, wat herbou gaan word nie. Hoekom sou sy? Die meeste mense het nie ’n probleem daarmee dat berge stof hul elke denkbare holte opvul nie, die geraas van swaar voertuie hul ore kastreer of dat padwerk met ’n legio ander frustrasies gepaardgaan nie.

Hoekom is dit nodig om ’n vlag te swaai asof jy by die Grand Prix diens doen?

Sy begryp ook nie die geloof dat geen juk jou opgelê sal word wat jy nie sterk genoeg is om te dra nie. Sy reken daar’s ’n grens wat die noodlot nie moet oorsteek nie, een daarvan is om nie haar pad te besaai met stop-and-go-duwweltjies nie.

Uiteraard is dit ’n positiewe wending as paaie opgegradeer word, dit beteken ook werkskepping, maar die padwerk tussen Groot- en Klein-Brakrivier duur nou al meer as ’n jaar en aan albei kante is daar ’n stop-and-go. Sy woon in die middel, met ander woorde haar nerwe is gaar.

Wat die ervaring net méér uitdagend maak, is die mense, meestal vroue, wat hulle in diens neem om die stop-and-go-stasies te beman. Dis sekerlik nie die mees aangename taak om ure lank in wind en weer te staan nie, maar hoe moeilik is dit om ’n glimlag op jou gesig te plak?

En haar persoonlike gunsteling, die vlagswaaiers. Hoekom is dit nodig om ’n vlag te swaai asof jy by die Grand Prix diens doen? Die meeste motoriste, die uwe inkluis, al kom sy van Bredasdorp af waar jy glo tot onlangs jou rybewys kon koop, het ’n geldige rybewys en is nie gesiggestremd nie. Jy kan sién daar’s padwerk en ry vanselfsprekend stadig.

Sy hoop (en bid) maar net dat daar aan die einde van haar lewenspad nie ook ’n stop-and-go wag nie. Want dan gaan sy reguit warmplek toe.

Meer oor:  Klitsgras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.