Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: Bankbalans? Ek oordeel ’n man aan sy toonnaels

’n Tyd gelede stamp ek my groottoon teen ’n versteekte rots op die strand.

Vir ’n oomblik of wat was dit vrek seer, maar my toon was nie gebreek of ek moes steke kry nie. ’n Stuk vel was af en dit het bietjie gebloei.

Maar anders as ’n klompie jare gelede, het dit nie net ’n paar dae geduur om te genees nie. Daar sit nog steeds ’n roof op my toon, want nuusflits, te danke aan ’n sindroom genaamd ouderdom, neem dit ’n ewigheid vir iets om gesond te word. Indien wel.

Soms val dit sommer net af of uit. Toon, vinger, hare, you name it, verby ’n sekere kerf op die almanak is genade jou enigste redding. En goeie gene, wat uit voorraad was toe die meeste van ons in die ry gestaan het.

Nou die dag staan ek in die veearts se wagkamer nadat ek my hond se toonnaels laat knip het. Uit die bloute sê ’n vrou: “Ek dink ek moet my man ook hierheen bring, sy toonnaels lyk verskriklik.” Jy weet nie of jy moet lag of simpatiseer nie, maar jy verstaan haar pyn.

Voete is die een ding wat nie grasieus oud word nie. Vra my, ek is ’n voete-loerder. Mense dink seker ek soek geld, want my oë is pal op die grond, vasgenael op elke toon wat verbykom. En glo my, liewe vriende, dis nié ’n mooi gesig nie. Daar’s ’n rede hoekom ons nie op ons hande loop nie.

En durf ons iets sê van die gekraakte hakskene wat by sommige sandale uitsteek? Geen verskoning, tensy jy ’n heeltydse spoorsnyer in die Kalahari is nie.

Jy kry die idee mense probeer nog om dinge bokant die belt in toom te hou, maar wat suidwaarts gebeur, is ’n verlore saak. Verbeel ek my of sê hulle ’n boom verrot van die wortels af op?

En dis nie asof die keuse van skoeisel die reeds benarde kwessie enige guns bewys nie. Vroue het darem ’n stylvoller keuse. Mansmense daarenteen dra sandale wat lyk asof dit van ou tyres gemaak is, of hulle dra plakkies wat so klein is dat die helfte van die hakskeen die straat skoonvee.

En durf ons iets sê van die gekraakte hakskene wat by sommige sandale uitsteek? Geen verskoning, tensy jy ’n heeltydse spoorsnyer in die Kalahari is nie.

Daar was ’n tyd toe ’n man se hande my aandag getrek het. Sy breë skouers, sielvolle oë en sy gespierde boarms. ’n Welige bos hare was ’n bonus. En natuurlik ’n skerp intellek, ’n sin vir humor en ’n groot hart.

En nou? Benewens ’n gesonde bankbalans en ’n swak hart, ’n paar skaflike voete. Een wie se toonnaels ek nie by die veearts hoef te laat knip nie.

Meer oor:  Maretta Bellingan  |  Klitsgras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.