Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: Bokke, as julle jul lewe liefhet, volg net hierdie draaiboek

Dis Maandagaand, vyf dae voor die Wêreldbeker-eindstryd.

Buite waai ’n onbeskofte wind. Ek sit-lê voor my rekenaar, tik so halfhartig met die een hand en ek wonder hoe ek volgende week hierdie tyd gaan voel. Dronk van geluk of net dronk.

Die ding is ek dink nie ons het ’n kat se kans om te wen nie. Dis verskriklik onpatrioties, ek weet, maar glo my, dis een manier om ’n naderende ramp te verwerk. Jy konfronteer hom nog voordat hy gebeur het.

Jy gaan lê op die treinspoor en sê vir jouself: Laat dit so vinnig en pynloos moontlik wees.

Die vorige twee Sondae het ons die wedstryde by my huis gekyk. Vriendin Martie en haar 93-jarige moeder, tannie Miems. Die eerste Sondag het ons boereworsrolle geëet, verlede week het Martie vir ons ’n souttert gemaak en hierdie week dink ek ons gaan net ons naels kou.

Tannie Miems is die enigste een wat elke keer oortuig was die Bokke gaan wen. En sy was reg. Al het sy ook voorspel die Russe gaan die toernooi wen – en sy wil elke week weet hoekom daar so baie Chinese op die paviljoen is.

Ná die wedstryd teen Wallis was sy hoogs ontstoke: “Daai skeidsregter is useless, hy blaas dan net as die Bokke ’n fout maak.”

Hoekom lieg hy nie liewer en sê dit was alles deel van die plan dat die meeste van Gouelokkies se lugskoppe doelloos moet wees en dat Willie weke lank geoefen het om stylvol mis te vang nie.

As ek net ’n gram van tannie Miems se chutzpah en geloof gehad het, was ek meer positief.

En as Rassie net ’n bietjie meer moeite gedoen het om die wol oor ons oë te trek. Maar so dierbaar as wat hy is, hy kan nie lieg om sy lewe te red nie.

“It could have gone either way, I think we were a bit lucky. I was worried in the last ten minutes, but luck­ily we pulled it through.”

Hoekom lieg hy nie liewer vir ons en sê dit was alles deel van die plan dat die meeste van Gouelokkies se lugskoppe doelloos moet wees en dat Willie weke lank geoefen het om stylvol mis te vang nie.

As ons net nie teen daai klomp windgat Engelse gespeel het nie. Pleks hulle het by die huis gebly en liewer hul Brexit-gemors uitstryk. Nou moet ons uitfigure hoe om Eddie Jones en sy klomp spiertiere te tem.

Enigiets kan gebeur, sê die kenners. Handré skop in die tweede minuut ’n skepskop oor. Tien minute later kry Mapimpi die bal op die kwartlyn, hardloop bo-oor Owen Farrell en plant die bal tussen die pale. In die laaste minuut onderskep Cheslin Kolbe die bal en druk die wendrie.

So, Bokke, volg asseblief die draaiboek, anders gaan julle met tannie Miems te doene kry.

Meer oor:  Klitsgras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.