Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: Die t-woord behoort uit die taal verban te word

Motorwerktuigkundiges hou nie van my nie en die rede is heel eenvoudig. Ek wil nie slegte nuus hoor nie.

Wat ook al fout is met my voertuig, al wat ek wil hoor is: “Dis sommer ’n kleinigheid”. En daarna: “Dit sal nie veel kos om te herstel nie.”

En die belangrikste van als, dit sal nie langer as vyf minute neem om die probleem uit te stryk nie.

Enigiets anders maak my iesegrimmig. En as hulle nou régtig wil hê ek moet ’n gasket blaas, spreek my aan as “tannie”.

Die t-woord is ’n euwel en behoort uit die Afrikaanse taal verban te word.

Dis slegs ’n remlig wat vervang moet word en ek voel heel gemoedelik toe ek by die plek stop.

Die eerste ou wat onder ’n motorkap uitpeul, is bles, het ’n grys snor en ’n gesonde boep. Solank hy nie die reëls oortree nie, behoort ons verhouding kort, kragtig en vervullend te wees.

“Hoe kan ek Tannie help?”

Julle ken die mooi storie van die outjie wat die vissie teruggegooi het in die see . . . Jy kan nie álmal red nie, maar aan dáái een maak dit ’n verskil. Wel, dis my benadering tot die bekering van enigiemand onder die ouderdom van tien wat die woord “tannie” ydellik gebruik.

’n Tannie dink Riaan Cruywagen is ’n vleispaleis.

Minstens drie keer per dag, sewe dae per week lewer ek my preek aan wie ore het om die boodskap te ontvang. Soms is ek driftig, ander kere effe meer gemoedelik.

En die uitdrukking op hul gesigte is veelseggend. Shame, sy wil nie erken dat sy oud is nie. Kom ek vertel jou iets wat jy nie weet nie. Ek weet blêrrie goed hoe oud ek is, jy hoef my nie daaraan te herinner nie.

Vra gerus vir Anton Goosen wat 70 jaar jonk is. Ons gesels ’n tyd gelede oor die éinste onderwerp. Anton verpes dit ook as mense hom oom. ’n Oom is iemand wat op die ouetehuis se stoep sit en sy sop met ’n vurk eet. ’n Tannie dink Riaan Cruywagen is ’n vleispaleis.

Die verskoning is meer as gereeld: Ja, maar dis hoe ek grootgemaak is. My ouers was ook nie perfek nie, maar ek straf nie ander mense daaroor nie. Slegte gewoontes is gemaak om afgeleer te word.

Van wanneer af is “Middag, wat kan ek vir jou doen?”, slegte maniere? Respek kan op vele maniere oorgedra word. Hoe sal jy voel as ek sê: “Hei, jy met die boep en die bles, sal jy asseblief my remlig vervang?”

Ek weet ek voer ’n opdraande stryd, maar net sodra ek wil moed verloor, herinner ek myself daaraan . . . Een vissie op ’n slag.

Meer oor:  Klitsgras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.