Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: En die grootste hiervan is die liefde

Hierdie oujongnooi kyk lankal nie meer of daar ’n Valentynsdagkaartjie in die posbus of ’n bos blomme by die voordeur is nie.

Buitendien, tjoklits gee haar sooibrand en peperduur rose verlep sommer oornag.

Sy is dalk ridderloos, maar liefdeloos is sy beslis nie. Daar’s ’n hele rits dinge wat haar hart vinniger laat klop. En nie één daarvan vereis dat sy haar beenhare skeer of vir flou grappe lag nie.

Poeding – min dinge gee haar soveel bevrediging as ’n goeie koekstruif. ’n Regte, egte outydse trifle. Elke mondvol is ’n gastronomiese ontploffing en voer haar na plekke waar romanse haar selde neem.

En moenie ’n broodpoeding, die bokant net so effens geskroei, met dik plaasroom gering skat nie.

Tennis – vir sommige is dit net ’n vervelige speletjie, vir die fynproewer is dit ’n spel wat jou vasgenael hou, jou laat snak na jou asem, kreun van teleurstelling en huil van genoegdoening. En as ’n smeulende matador genaamd Nadal op die baan is, met bo-armspiere wat ’n moerige Jerseybul kan stuit, kan die wêreld maar vergaan.

Om tuin te maak is om jou eie skildery in die natuur te verf.

My tuin – nie net is dit ’n lus vir die oog nie, maar dis doepa vir die hart. Om tuin te maak is om jou eie skildery in die natuur te verf. Jy skryf ’n liefdesliedjie met kleure, teksture en vorms. Elke blaartjie en elke boom, elke blom en elke grashalm, onbeskaamd perfek.

Boeke – jou pa was nie ’n gesiene of geleerde man nie, maar sy liefde vir lees het hy aan jou bemaak. Al sukkel jy soms, want die koppie is woelig weens aandagafleibaarheid, is daar min dinge wat jou soveel vreugde gee. Jy is dalk soms alleen, maar jy sal nooit eensaam wees nie.

Petronel se stem – wanneer die formidabele me. Baard voor die mikrofoon inskuif, piepie daar ’n engel op jou siel. Of sy nou jou gunsteling- liedjie “Halleluja” sing of haar eie komposisie “Life is Good”, jy wil die wêreld stilmaak en vir hulle sê, luister, hier gaan ’n stem verby.

Boetatjie – jy was nog altyd mal oor diere, maar hierdie klein worshondjie het elke kamer in jou hart beset. Billy ken jou beter as wat jy jouself ken. Hy manipuleer jou, hy frustreer jou en hy regeer jou. Maar hy aanbid jou soos geen man nog ooit het of ooit sal nie.

Soggens – maak nie saak hoe swaar jou hart dalk was toe jy gisteraand ingekruip het nie, jy’s altyd opgewonde om wakker te word. Die potensiaal van ’n nuwe dag dra oneindige belofte.

En wie weet, dalk spoel daar vandag ’n galante ou surfer op die strand uit en het jy volgende jaar ook ’n Valentyn.

Meer oor:  Maretta Bellingan  |  Klitsgras  |  Valentynsdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.