Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: Het jy die een gehoor oor die ‘sexy’ aksent uit Suid-Afrika?

Die Suid-Afrikaanse aksent is onlangs aangewys as die tweede sexy­ste aksent in die wêreld. As jy in ag neem dat daar sowat 7 000 tale wêreldwyd gepraat word, is dit sekerlik ’n groot kompliment, maar of jy daarmee saamstem, is ’n perd van ’n ander kleur.

Stel jou voor. ’n Boer van die Karoo en ’n Franse bakker sit in ’n kroeg.

’n Pragtige meisie stap in.

Die boer sê: “Hallo, my naam is Gert en my skaaptjops is so sag soos ’n baba se boudjies.”

Die bakker, in Frans natuurlik, sê: “Bonjour madame, my naam is Jean-Claude en my croissants is magnifique.”

Wie dink jy gaan die meisie kry? Ek eet sommer ’n paar velskoene op as sy in Gert se oë kyk en vir hom sê: “I just loooove your accent, please take me to your Airbnb and make passionate love to me until the cows come home.”

Gert sal hom buitendien boeglam skrik en in sy bier verstik, terwyl Jean-Claude met die ingebore vernuf van ’n Don Juan sy vingers deur haar hare trek en haar saggies in die nek soen.

’n Suid-Afrikaanse aksent, sexy?

Ek weet darem nie.

My aksent het omtrent soveel vir my liefdeslewe gedoen as boerseep vir my plooie.

Dis soos om te sê kakie is die nuwe satyn.

Kyk, ek is trots op my taal, maar my aksent het omtrent soveel vir my liefdeslewe gedoen as boerseep vir my plooie – net mooi niks nie.

Dat ons ’n moeilike aksent het vir ’n vreemde tong om te bemeester, is egter nie altemit nie.

Volgens die Skotse akteur David Tennant is ’n Suid-Afrikaanse aksent vir baie akteurs hul Waterloo. Hulle klink meestal soos iemand wat ’n spraakgebrek het of in tale praat. Daar’s selfs ’n tutorial op YouTube beskikbaar – “to help you get it raaight”.

’n Hoogs vermaaklike artikel op die internet gee ’n paar voorbeelde oor verskeie buitelandse akteurs se pogings tot ’n geloofwaardige Suid-Afrikaanse klank.

Die joernalis verwys na akteurs soos Morgan Freeman, Idris Elba, Forest Whitaker en Matt Damon wat nie een daarin kon slaag om die aksent baas te raak nie, maar sonder Val Kilmer in The Saint uit as die akteur wat ’n “ek gee nie ’n hel om om eers te probeer nie”-houding ingeslaan het.

Sy gevoel oor Kilmer se vertolking: “If you’re a South African then boet, I’m Betmen!”

Daar was ’n tyd toe ons vir baie dinge bekend was – die glorieryke dae van Madiba toe die Bokke nog respek afgedwing het, toe die Bladerunner sy aanhangers laat juig het, Charlize Theron haar goue beeldjie ontvang het . . .

Deesdae is ons nie vir veel meer bekend as hoë misdaadsyfers en baie slaggate nie.

Ons moet seker dankbaar wees vir enige erkenning. Al is dit vir ons “eksent”.

Meer oor:  Maretta Bellingan  |  Klitsgras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.