Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: Jy’s nié so skuldig as wat jy dink nie . . .

Die meeste van ons probeer tot ’n mate om die wêreld met ’n beeld van normaliteit te benader.

Jy wil tog nie met ’n reputasie deur die lewe gaan as iemand wat nie al sy otjies op hok het nie. Al kan niemand vir jou sê hoeveel otjies nou eintlik “normaal” is, en of dit saak maak as daar ’n groen of blou otjie in die werpsel is nie.

Mense kan nog na jou verwys as eksentriek, bietjie weird of nie almal se cup of tea nie. Dit gee jou immers ’n aura van individualiteit, so what as jy nie aan die edele verwagtinge van tannie Sannie van Koekenaap voldoen nie.

Om egter jou vreemdste giere en geite, en ons het almal ’n paar, aan die groot klok te hang, is iets wat ons instinktief vermy. Ons hou maar konsert en hoop vir die beste, min wetend dat meeste van ons geite eintlik net ’n illusie is.

So het die uwe onlangs besef dat een van haar vele “afwykinge”, een wat haar nogal lelik bloots gery het oor die jare, glad nie so uniek is nie en dat baie mense, veral vroue, dit onder lede het.

Ek het so ’n bietjie navorsing gedoen en met verskeie vriendinne gesels en met enkele uitsonderings, was die reaksie, “Ja, ek weet presies wat jy bedoel, maar ek het gedink dis net ék wat so voel”.

Ek is ’n vrou en dus het ek drooggemaak. Ek is hormonaal, histeries, hardkoppig . . . kies die straf, ek verskaf die sonde.

Die oorsprong is onbekend. Dalk is dit ’n streng kinderkransjuffrou se skuld, ’n kwaai onderwyser of ’n jaloerse kêrel of dalk is ons vroumense net so bedraad, maar talle van ons ly tot ’n mindere of meerdere mate aan “ek is in die moeilikheid”-sindroom.

As jy wonder wat dit behels, is jy waarskynlik een van die bevoorregtes wat nie konstant skuldig voel oor iets nie. En boonop in ewige vrees leef dat iemand dit sal uitvind en jou oor die kole haal nie.

So lank as wat ek kan onthou, dra ek daai gevoel met my saam. Jy verbeel jou jy steek ’n geheim weg en dis net ’n kwessie van tyd voordat iemand jou aan die kaak gaan stel. Dis asof jy op geleende tyd leef en as iemand sê boe, dan skree jy baa.

Hulle sê dis ’n vroumensding, ’n ingeteelde afwyking wat ons oor eeue heen met ons saamdra.

Ek is ’n vrou en dus het ek drooggemaak. Ek is hormonaal, histeries, hardkoppig . . . kies die straf, ek verskaf die sonde.

Ek sê basta, tot hier toe en nie ’n tree verder nie. Ek is soos meeste ander inherent ’n goeie mens en my intensies is eerbaar en as jy my nie glo nie, gaan lees die boodskap in lipstiffie op my badkamerspieël.

Jy is nié in die moeilikheid nie!

Meer oor:  Maretta Bellingan  |  Klitsgras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.