Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: Lank gelede was sommer nou die dag

Ek bel my vriendin Susan wat deesdae amper heeltyds op hul plaas in die Baviaanskloof woon om reëlings te tref vir haar voorgenome besoek die volgende dag.

“Jammer man, ek kan nie nou praat nie, ek is op die land,” sê sy en lui af.

Susan is ’n merkwaardige vrou. Sy’s ’n skilder wat vyf gastehuise bestuur en net so goed kan bak as wat sy kan boer.

Haar woorde stuur my verbeelding in ’n duisend rigtings. Gestel Andries Pretorius se selfoon het in die middel van die slag van Bloedrivier gelui. Op die lyn was sy vrou, Christina, bes moontlik agt en ’n bietjie maande in die ander tyd.

“Andries, jy beter kom, my water het gebreek.” En Andries, verskeur tussen plig en patriotisme, antwoord haar sagkens, dog streng. “Nie nou nie Mamma, ek’s in die middel van iets . . .” Of dalk was sy reaksie: “Die WhatsApp breek al weer op Moeder, ek bel jou as ek ’n beter sein het.”

My vriendin se woorde is gelaai met nostalgie en vat my terug na lank gelede toe dié plaaskind heelwat tyd op die “lande” deurgebring het, lank voordat sy die verleiding van verre lande ontdek het. Langs haar pa op die trekker, besig om te ploeg of te saai. Pa het weliswaar nie met ’n ossewa lande toe gery nie, maar daar was sekerlik nie ’n selfoon in sy kakiehemp se bosak nie. Ma het ook nie dorp toe gegaan vir ’n facial en ’n cappuccino nie, maar om kruideniersware te koop.

Ontwikkeling het tot gevolg dat elke nuwe generasie voel asof die “ou dae” eeue gelede was.

Op pad huis toe stop ons by die Oasis-kafee vir ’n banana milkshake en 20 sent se Star-toffies. Geen wonder my tande het nie die toets van die tyd deurstaan nie, daai toffies was harder as graniet!

Vanaand luister jy in die donker in jou bed Top-20 op LM Radio of Pick a Box op Springbok. Saterdagaande gaan jy saam met jou ma-hulle dorp toe vir ’n skop-skiet-en-donner in die Regal-teater.

Ontwikkeling het tot gevolg dat elke nuwe generasie voel asof die “ou dae” eeue gelede was, en eintlik was dit maar net nou die dag.

Toe joernaliste nog hul stories op tikmasjiene geskryf het. Toe Frik du Preez nog ’n jong lat was, toe ’n drie nog vier punte was en “Timothy” nommer een op die treffersparade.

Dis nie asof jy met opset aan die verlede wil vasklou nie, maar net soms verlang jy na die eenvoud van weleer. Tegnologiese vooruitgang dwing die mens om te verander, anders kan hy nie in hierdie nuwe wêreld funksioneer nie.

Maar jy besef ook dat jy ’n gister met jou saamdra wat onlosmaaklik deel is van môre.

Meer oor:  Klitsgras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.