Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: Lank sal sy lewe – solank sy elke dag 15 keer hard lag

Net voordat die ontvangsvrou-sonder-gesigsuitdrukking my in kennis stel dat die dokter-sonder-gesigsuitdrukking gereed is om my te sien, ontvang ek ’n Whats­App-foto van my vriendin wat tans saam met haar man deur Europa toer. Sy lê uitgestrek op ’n strand op die eiland Majorka.

Verlede week was hulle in Barcelona, die vorige week in Venesië, die vórige week in Genève . . .

Verlede week was ek in die hospitaal, die vorige week by die apteek in Fraaiuitsig, die vórige week by die tandarts in Hartenbos. Ja, jong, ons is ware jet-setters.

Ek gun my vriende hul ongelooflike vakansie en verlekker my net so effens wanneer sy kla oor die onbeskofte Franse en die stresvolle rit op die nou paadjie na die Como-meer.

Helaas is my reisvlerkies al ’n paar jaar lank geknip. Iewers in die toekoms wag Mexiko nog, hang net af of my Naspers-aandele momentum behou. Vir die hede is die grootste opwinding in my lewe egter ’n besoek aan ’n daghospitaal.

’n Hospitaal kan seker ’n neerslagtige plek wees indien jy ernstig siek is, maar ’n gastroskopie is darem nie doodsake nie. Almal is so gaaf en besorg, dit voel asof jy by ’n spa tuisgaan.

Volgens dok het ek die gesondste siekte wat ’n mens kan hê en sal ek almal rondom my uitoorleef.

Net jammer van die skreeuende kind in die kamer langsaan (glo die narkose) en die onvleiende blou papieronderbroek. Maar ek kan verstaan hoekom Michael Jackson saans na droomland gereis het op ’n bootjie van propofol, dis gevaarlik lekker om net so weg . . . te . . . raak . . .

’n Paar dae later meld ek aan vir die uitslag. Ek hou van ’n ernstige dokter, suurrefluks is nie ’n grap nie, maar die dokter-sonder-gesigsuitdrukking kry nie wat hy soek in my lêer nie. Ek wonder of dit bloot ’n vertragingstegniek is om die slegte nuus uit te stel.

Vreemd hoe jou kop met jou kan smokkel. Eintlik wil jy sê, jammer ek het vergeet om die stoof af te sit of moenie worrie nie, jy’t seker lewens om te red, ek kom weer môre. Jy wens jy sit liewer in ’n gondel in Venesië of koop kruideniersware by Spar, jy wil net nie hiér wees nie.

Volgens dok het ek die gesondste siekte wat ’n mens kan hê en sal ek almal rondom my uitoorleef. My buurvrou is 85, so dit het sin. Hy stel voor dat ek in ’n donker vertrek slaap, ’n streslose lewe lei en minstens 15 keer op ’n dag hardop lag.

En toe die doodsteek: “Geen suiker en witmeelprodukte nie, nóóit weer nie ”.

Vir iemand wat klaarblyklik nog ’n goeie halfeeu oor het, is dit ’n bitter pil om te sluk.

Meer oor:  Maretta Bellingan  |  Klitsgras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.