Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: Om te drink of nie te drink nie

Jou studentedae is ook nie meer so vars in die geheue nie, maar so dan en wan gebeur iets wat jou noodgedwonge terugvoer na vervloë dae. Toe jy oor weinig meer bekommerd was as môre se toets en Saterdagaand se sokkie.

Jy was lekker windgat, want jy bly in Huis Erika, een van die nuwe koshuise op Stellenbosch. Tydens ontgroening moet jy ’n toespraak maak oor die kleinkoekiebedryf in Argentinië, maar dis een van vele uitdagings wat jy sal oorkom.

Gaan jy ’n date kry vir die huisdans? Hoe kan jy jou sakgeld rek tot maandeinde? En hoekom is slaap nie ’n vak nie?

Jy’s vis nog vlees, volwassene nog kind, maar jy hop, skip en jump deur hierdie nuwe lewe waarna jy so lank gehunker het. Jou kamer is altyd deurmekaar, jy eet te veel slaptjips en Spur-kaaskoek, en Sondagaande bel jy jou ma van die tiekieboks af.

Jy blaas jou laaste geld op ’n perm en woon partytjies by waar jy niemand ken nie, en vry vir die eerste keer ’n ou wat skeer.

Jou vriende is ’n wonderlike mengelmoes mense wat die noodlot spesiaal vir jou gekies het. Met sommige sal jy lewenslank ’n pad stap, ander kom kuier jare later in jou kop wanneer jy deur ou albums blaai.

Iemand het probeer om die bier in ’n warmwatersak te gooi, maar ons kon nie betyds van die bewyse ontslae raak nie.

Jy kom redelik ongeskonde anderkant uit. Wel, so min of meer.

Ek kan nie onthou of dit iemand se verjaarsdag was en of ons bloot besluit het dis tyd om die noodlot uit te daag nie, maar kort voor die eindeksamen kry ons die briljante idee om drank by die koshuis in te smokkel. Drie quart-biere om presies te wees.

Ter wille van hul goeie reputasies en enige naasbestaandes wat kan aanstoot neem, sal daar liewer nie name genoem word nie. Dis wel belangrik om te meld dat niemand wat meegedoen het, sover my kennis strek, ooit later jare lede van Alkoholiste Anoniem geword het nie.

En hoe dit gebeur het dat ons gevang is, moet jy ook nie vir my vra nie. Ek weet net ’n huiskomitee-lid het lont geruik en ons op heterdaad betrap.

Iemand het probeer om die bier in ’n warmwatersak te gooi, maar ons kon nie betyds van die bewyse ontslae raak nie.

Die volgende dag het dit behoorlik gegons op die kampus, selfs die rektor is ingelig van die skande. En die toorn van ons huismoeder, op haar dae ’n pastoriemoeder, het behoorlik op ons neergedaal.

Moet daar drank toegelaat word in die koshuise op Stellenbosch? Ja. Om bier uit ’n warmwatersak te drink sal enigiemand na drank dryf.

Meer oor:  Maretta Bellingan  |  Klitsgras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.