Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: Ons storie was nie perfek nie, maar ons s’n

Ek kan nie eens onthou of ek ooit aan Vader Krismis geglo het nie.

Ma is ook nie meer hier om te vra nie en já, dís wanneer ek haar die meeste mis, wanneer ek iets wil vra oor doerie tyd. Nou maak ek maar my eie storie op en laat dit so perfek moontlik klink.

Oukersaand los ek vir Kersvader ’n glas plaasvars Helderfontein-melk en heerlike soetkoekies op die kombuistafel. Ek wonder hoe ’n ou oom by élke huis waar hy aandoen kan eet en drink, maar as dít die prys is vir ’n pop wat kan huil, wie’s ek om my oor ’n vreemdeling se konstitusie te bekommer.

Kersoggend is ek soos ’n pyl uit ’n boog uit die bed, reguit na die Kersboom waar die geskenke opgestapel lê. Wonder bo wonder het Kersvader my brief wat ek maande gelede reeds dikteer het, ontvang. Ek ruk die papier af, die opwinding byna ondraaglik. Pa sorg dat elke Kodak-oomblik vasgevang word.

Ná ontbyt gaan ons kerk toe. Ek bewonder my nuwe swart patent leather-skoene met die satynstrikke, terwyl die gemeente “Stille nag, heilige nag” sing. Pa hou ma se hand vas en sy haal liefderyk ’n wolletjie van sy baadjie se mou af.

My pa het nooit sy voete in die kerk gesit nie, maar onthou, dis mý storie en I’m sticking to it.

Die tafel is gedek vir ’n feesmaal. Ma roep vir pa om die boud te sny, terwyl ek die hond probeer vang om vir hom ’n Kershoedjie op te sit.

Buite die kerk gesels almal, wens mekaar geseënde Kersfees toe en skarrel karre toe, want die kalkoen is in die oond en die room moet nog geklop word. In die motor skil ek my lang wit sokkies af en vryf ingedagte oor die patrone wat dit op my bene gemaak het.

Ouma en oupa kom eet by ons. Oupa rook Rembrandt van Rijn en is so doof soos ’n kwartel. Ouma sê hy maak net of hy nie kan hoor nie. Pa vra vir oupa wat hy wil drink en oupa vra wat stink. As hy nié doof is nie, is hy ’n komediant.

Die tafel is gedek vir ’n feesmaal. Ma roep vir pa om die boud te sny, terwyl ek die hond probeer vang om vir hom ’n Kershoedjie op te sit. Ons trek die Krismis-crackers en lag uitbundig vir elke klapgeluid. Ma sê die patat het effens gebrand en pa vra wie wil nog ’n stukkie crackling hê.

Ná ete gaan almal eers ’n rukkie lê. Ek is nie vaak nie en kam my nuwe Barbie se hare. Laatmiddag maak ma tee en sny vir ons Krismiskoek. Ons klim vroeg in die bed.

Mamma, pappa, ons storie was nie perfek nie, maar dit was ons storie, so min of meer.

Hêppie Krismis.

Meer oor:  Maretta Bellingan  |  Klitsgras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.