Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: Skeepsreg op spyskaart net nêrens te kry

Dag 44. Ek is so gatvol van my eie kos ek kan skreeu. Selfs die tee smaak nie meer lekker nie. En die vooruitsig van nóg ’n tuisgemaakte maaltyd vervul my kolon met misnoeë. Nie eens my gunstelingkookprogram, MasterChef Australia, kon my inspireer om die kospotte te bespring nie.

Ná ’n week van inperking sê ek vir Die Huurder ek sal die Sondag ’n feesmaal vir ons saamslaan. Hoender in die oond gerooster, lekker patats, groenbone soos Ouma dit gemaak het, bruinrys en wortelslaai.

Die hoender was droog, die patats gebrand, die groenbone te sout en die rys halfrou. Die hoogtepunt van die maaltyd was die wortelslaai. Die Huurder, ’n man van min woorde, sê as ’n mens honger is, smaak enigiets lekker.

’n Paar dae later wend die uwe nog ’n poging aan. Die vulsel van die hoenderpastei lyk en smaak heel voortreflik. Plaas die deeg bo-op die vulsel, smeer met eiergeel en bak vir ’n halfuur. Wat kan nou eintlik verkeerd gaan?

Nie veel nie, behalwe as jy die verkeerde knop op die oond draai en jy ’n halfuur later ’n houtskool- pastei aangluur. Die boonste laag is pikswart verbrand, maar die deeg is steeds rou. Jy’s heimlik dankbaar jy’t nie kinders nie, want weens hongersnood en/of skeurbuik sou hulle al in pleegsorg gewees het.

Gister besluit jy, nee a kragtie, jy’s darem nie so treurig nie. Daai Vrouekeur-resep op Facebook van ’n wortel-rolkoek lyk darem alte begeerlik. ’n Ou soet dingetjie is net wat die dokter bestel het en drie maal is skeepsreg, dan nie?

Jy’s heimlik dankbaar jy’t nie kinders nie, want weens hongersnood en/of skeurbuik sou hulle al in pleegsorg gewees het.

Ons sal liewer nie by die details vashaak nie. Wat ek wel kan sê, is dat as ek ’n naaimasjien besit het, kon ek vir myself ’n paar skoene gemaak het met die pragtige stuk bruin leer.

Maar gelukkig het ek nie ’n masjien nie, want ek vermoed as jy nie kan bak nie, is die kanse maar skraal dat jy kan naai.

Iewers tussendeur was daar ook ’n pot kerrie wat nie aan die wense voldoen het nie, pannekoeke wat so dik soos ’n telefoonboek was en ’n knoffelpastasous wat enige vampier in sy spore sou stuit.

Terwyl ek op my stoep sit en my standaard-bloukaas-en-piesangroosterbroodjie afsluk, kan ek die bure se braaivleis ruik. Selfs Billy lig sy neus hoopvol in die rigting van die verleidelike reuke wat oor die pad aangerol kom.

En ek kry ’n blink gedagte. Wanneer alles verby is, gaan ek die klomp bitterbekke op ons buurtwag- WhatsApp-groep wat so kef en kla oor twak vir ’n vyfgangmaaltyd nooi.

Hulle verdien om bederf te word.

Meer oor:  Maretta Bellingan  |  Klitsgras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.