Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: Te veel van ’n goeie ding is ook neerdrukkend

Daar’s tye wat my gedagtes regtig op hol gaan.

Dit begin gewoonlik wanneer ek wakker word en duur totdat ek gaan slaap. Vroeër jare het dit gewissel van ek gaan ’n boek skryf wat gewilder is as Harry Potter, met ’n Franse edelman trou en kinders baar wat beeldskoon, slim en talentvol is. O, en ek gaan so tussendeur wêreldvrede bewerkstellig.

Maar met tyd kalmeer jou kop, en jou drome raak meer realisties. Jy is dankbaar dat jy kan skryf om die pot aan die kook te hou, jy vergeet van die edelman en die modelkinders en skaf ’n hond aan. En die naaste wat jy aan ’n heldedaad kom, is om jou selfoon te bemeester.

Hoe dit ook al sy, jou blink planne werk selde uit – meer nog as jy glo jy is in die verkeerde era gebore. Jy hoor dikwels mense sê iemand is “voor sy tyd” en dis bedoel om ’n kompliment te wees. Ek kan aan geen groter straf dink nie.

Vandag is daar te veel verwagtinge, keuses en optimisme. Almal van Oprah tot Rassie Erasmus glo jy kan enigiets bereik, so lank jy jou bes doen. En bewaar jou siel as jy nie na die sterre reik nie – dan is jy lui, ondankbaar en behoort onder ’n brug te woon.

Niemand het agter jou rug geskinder “Arme mens, sy’t net twee koppies meel oor en dis nou eers die middel van die maand,” nie.

Ek wens ek is 50 jaar vroeër gebore. Toe mense regtig net probeer oorleef het en dit alleen ’n prestasie was. Niemand het hulle gesteur aan of jy jou volle potensiaal bereik nie. As iemand jou vra “Wat het jy vandag gedoen?” en jy antwoord “Ek het ’n aartappel gebak,” was dit genoeg. Of: “Ek het lewe geskenk aan my 12de kind en toe die vuurherd gestook.”

Ek is nie verbaas navorsing dui aan dat mense in hierdie eeu materieel beter af is nie, maar emosioneel is hulle ’n nul op ’n kontrak. Miskien sou ek anders gevoel het as ek welgesteld was. Ek sou alte lekker in my penthouse gewoon en Chanel nr. 5 vir toiletsproei gebruik het.

Maar ek is nie en ek het ál die stres van die moderne lewe, sonder enige van die voordele. Wat net my vermoedens bevestig dat ek jare te laat gebore is. Ek sou veel gelukkiger gewees het met net een rok, twee onderbroeke en ’n lewensverwagting van net oor die 60 jaar.

Jare gelede het almal swaargekry, álmal het gekla. Niemand het agter jou rug geskinder “Arme mens, sy’t net twee koppies meel oor en dis nou eers die middel van die maand,” nie.

Ek kon na hartelus kla en niemand het ’n wenkbrou gelig nie, want almal was in dieselfde lekkende bootjie.

Meer oor:  Maretta Bellingan  |  Klitsgras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.