Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: Trump kan my gerus drie-uur by skoolhek kry
Maretta Bellingan

In die laerskool was daar ’n meisiekind by ons in die skool wat by almal, seuns inkluis, groot vrees ingeboesem het.

Saartjie Bok was rof en onbeskof en het die littekens gehad om dit te staaf. Het jy dit durf waag om te stadig voor haar te stap of verkeerd na haar te kyk, het sy jou vinnig toegesnou: “Kry jou drie-uur by die hek.”

En ons het almal geweet wat dít beteken. Jy beter bid dat jy voor drie-uur deur ’n buiteruimtelike wese ontvoer word of blitsvinnig ’n dodelike siekte ontwikkel, want jy gaan nié ongeskonde by daai hek uitstap nie. Selfs die onderwysers was bang vir haar.

Ek weet nie wat van Saartjie geword het nie. Sy’t beslis nie haar skoolloopbaan voltooi nie. Iemand het gesê sy’t met ’n mechanic getrou en die living daylights uit hom gebliksem; iemand anders het gesê sy’t tot bekering gekom en ’n sendeling geword. Ek glo die mechanic-storie.

Genadiglik het ek nog nooit handgemeen geraak met iemand nie of selfs gedagtes gekoester van hoe ek iemand wil “regsien” nie. Dis bly vir my ’n raaisel en skókkend dat mense so kwaad kan raak dat hulle mekaar fisiek aanval.

Die man is soos ’n ongelukstoneel, jy weet jy moenie kyk nie, maar jy kan jouself nie help nie.

Tensy dit ’n “geveg” is soos die een waaroor daar ’n tyd gelede in een van ons plaaslike koerante berig is. Die tafereel het hom afgespeel op die terrein van die departement van korrektiewe dienste se gebou in George waar, volgens ooggetuies, ’n vroulike tronkbewaarder en die streeksekretaris van die ANC glo slaags geraak het.

Dit het begin met ’n argument wat na bewering handuit geruk en gewelddadig geraak het. Die insident het glo die gooi van hardgekookte eiers ingesluit. Die twee het klagte van aanranding teen mekaar aanhangig gemaak. Die persoon wat daai eiers gekook het, het sekerlik nie gedink dit gaan later as ’n wapen aangewend word nie!

Daar’s wel een ou wat die Mike Tyson in my wakker maak en hy heet Donald Trump, ja, daai ou wat na lande in Afrika as sh*thole countries verwys. As daar iemand is wat ek drie-uur by die hek wil ontmoet, en nie om die kernkragooreenkoms met Iran te bespreek nie, is dit die Amerikaanse president.

Die man is soos ’n ongelukstoneel, jy weet jy moenie kyk nie, maar jy kan jouself nie help nie. Jy wens Kim Jong-oen wil hom aan die strot gryp en ’n paar warm klappe gee, al is dit net om daai simpel kuif van hom los te skud.

En ons het gedink Zuma was ’n verleentheid. Ten minste was daar nie ’n gevaar dat hy die Derde Wêreldoorlog kan begin nie.

Meer oor:  Klitsgras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.