Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: Trump se tentakels strek ver en wyd

My pa het geglo jy kry twee soorte mense. ’n Ou wat, sou sy beursie dit natuurlik toelaat, ’n Mercedes sal ry en ’n ou wat ’n BMW verkies.

Pa Bill was ’n Mercedes-man.

Nie dat sý beursie dit ooit sou toelaat nie, maar in sy wildste drome het daar in stede van ’n deurleefde ou Mazda-bakkie ’n blink Merc in sy motorhuis gestaan.

En heel onbewustelik het hy hierdie geloof aan sy dogter oorgedra.

Sy sou veel eerder ’n afspraak aanvaar van ’n man wat ’n bicycle as ’n BMW ry. Daar was wel een wat deur die krake geglip het, dieselfde een wat tamatiesous oor sy braaivleis gegooi het. I rest my case.

Met verloop van tyd sou daar nog ’n paar kruisies op haar lysie verskyn. ’n Man met ’n snor het nog nooit ’n kans gestaan nie en Mr Price-jeans is helaas ook ’n no-no; só ook ’n laslappie-leerbaadjie en ’n ou wat sy oor met sy bakkie se sleutel krap.

Jy kan kwalik vir Romeo voor die kansel sê: “Jammer, jou broek is ’n deal-breaker.” Dit verg soms ’n hele paar afsprake, kosbare tyd wat jy kon gebruik het om doilies of popklere te hekel, alvorens hy sy ware kleure óf klere wys.

Die afgelope tyd het sy dinge egter ietwat vereenvoudig. En die proses kan nou in so gou as ’n minuut afgehandel word. “Is jy ’n Trump-aanhanger of nie?” Sy vry liewer ’n ou met ’n snor wat Mr Price-jeans én ’n laslappie-leerbaadjie dra en leef met die gevolge.

Daar het min goeie dinge in 2020 gebeur, maar Biden se oorwinning maak dit amper draaglik.

Dis sekerlik ’n onderwerp wat al holrug gery is, maar dit sal haar tot in die graf agtervolg. Hoekom is daar soveel mense wat daai pienk, narsistiese boelie steun? En as jy dink hy’s ’n goeie president moet jy jou daggahandelaar in die pad steek.

Daar het min goeie dinge in 2020 gebeur, maar Biden se oorwinning maak dit amper draaglik.

Die ander dag het ek en ’n tannie amper handgemeen geraak en dit nogal in ’n skoonheidsalon. “Trump het alles oopgekrap,” sê sy met opgepofte wange, en toe ek durf vra wát hy nogal oopgekrap het, antwoord sy: “Hillary het wapens aan die Midde-Ooste verkoop.”

Goeiste, maar die vrou is boosaardig. Nie net is Hillary hoof van ’n pedofielring nie, sy’s ook ’n wapensmokkelaar en bes moontlik skeer sy nie haar beenhare nie. Hoe slaap mense wat hierdie twak vir soetkoek opvreet? Is jy nie bang ’n Gremlin lê eiers in jou oor nie?

Bes moontlik kan jy my fassinasie met Amerikaanse politiek toeskryf aan my walging om in die stinkende plaaslike politieke rioolwater te swem, maar jy kan nie stry nie, Trump se tentakels strek ver en wyd.

En ek kan jou waarborg, hy’s ’n BMW-man.

Meer oor:  Klitsgras  |  Menings  |  Stemme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.