Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: Vandag se berg is môre se molshoop

’n Ou kan nog afleer om jou naels te kou of te veel tjoklits te eet, of jy kan minder TV kyk, maar ’n kommerkous is gedoem tot ’n lewenslange vonnis van konstante onrustigheid.

Om geheel en al gelate deur die lewe te gaan, sit nie in elke ou se broek nie. Dit sit beslis nie in hiérdie antie se broek nie, sy’t maar ’n geneigdheid om die kar voor die donkies te span.

Darem nie omdat sy ’n negatiewe uitkyk op die lewe het nie, sy het net nie altyd die vermoë om in die oomblik te leef en môre se probleme te los waar dit hoort nie, môre.

Dis nie dat sy immer die slegste uitkoms verwag nie, maar sy wil tog graag voorbereid wees op die onverwagte. Sy wil gereed staan met die brandblusser, lank voordat die vonkie enige skade kan aanrig, die dief pootjie nog voordat hy sy kop by die deur kan insteek.

Maar mettertyd leer jy genadiglik om jou spoke op hok te hou, en een tegniek is om jou lewe so ongekompliseerd as moontlik te maak.

Dit help ook as jy die nutsman, die tandarts, die veearts én die bankbestuurder se nommers op speed dial het!

Ek huil lang trane oor ’n papbektoekoms wat my in die gesig staar, maar ’n uiters kundige tandarts red wat ek geglo het heeltemal verlore is...

En natuurlik ’n paar goeie vriendinne wat jou graag daaraan herinner dat jy eintlik veel het om voor dankbaar te wees. En dat om man- en kinderloos te wees, nie die grootste straf in die wêreld is nie.

Jy leer ook dat wat vanaand soos ’n berg voor jou staan, môreoggend skaars ’n miershoop hoog is. En dat ’n dak oor jou kop, ’n lekker bord kos en goeie gesondheid eintlik al is waarop jy jou hoop moet bou.

Veral wanneer jy besef hoe gou dinge wat heeltemal buite jou beheer is, kan skeefloop.

Die afgelope paar maande is ek bloots gery deur ’n halfdosyn absesse in my mond en uiteindelik kondig die tandarts aan dat hy ongelukkig niks vir my kan doen nie. Met tyd, gouer as later beklemtoon hy, sal my tande een vir een uitval. Tensy ek ingewikkelde en peperduur chirurgie laat doen waartydens been uit my heup gehaal en in my kakebeen oorgeplant word.

Ek huil lang trane oor ’n papbektoekoms wat my in die gesig staar, maar om kort te gaan, ’n uiters kundige tandarts red wat ek geglo het heeltemal verlore is – en al is my biltongdae getel, is my heup én my gebit buite gevaar.

Om in dankbaarheid te leef en elke dag (en tand) te geniet asof dit jou laaste is, is dalk uitdagend, maar dis ’n kans wat jy gerus kan waag.

Meer oor:  Klitsgras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.