Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maretta Bellingan: Word wakker: statistieke nie aan pitbulls se kant

As ek nog één berig moet lees oor ’n pitbull wat ’n mens of dier aangeval, vermink of doodgemaak het, gaan ek een van my vingers begin afkou. O wag nee, ’n pitbull het dit reeds gedoen . . .

Dis reg ja, sowat ses weke gelede het ’n pitbull my worshond bestorm, en in ’n poging om Billy se lewe te red, het ek amper ’n gedeelte van my wysvinger verloor.

Die pyn en ongerief wat ek sedertdien beleef het, was soms onbeskryflik, maar gering in vergelyking met die verlies wat sommige ander al moes ly.

Pitbull-aanhangers moet liewer nie verder lees nie, want ek gaan op meer as net jul tone trap. Ek gee regtig nie om of jou hond so soet en liefdevol is soos ’n babakat wat met ’n bol wol speel nie, statistieke is nie aan jou kant nie.

Charles Manson en Hitler het ook goeie eienskappe gehad, niks of niemand is slegs wreed en moorddadig nie en ek het self al ’n pitbull of twee raakgeloop wat op die oog af goedgemanierd en lieftallig was.

Tog is daar te gereeld voorvalle waar hierdie honde om geen sinvolle rede nie diere en mense aanval en meer dikwels afgryslike skade aanrig of selfs hul dood veroorsaak.

Talle lande het uiters streng wetgewing wat die besit van hierdie honde beheer, en in lande soos Duitsland en Nieu-Seeland word dié honde verbied.

’n Paar dae nadat my hond gebyt is, hoor ek van ’n insident in Gansbaai waar ’n man heel onskuldig op ’n sypaadjie gestap het. Skielik het twee pitbulls uit hul erf vrygekom, die man bestorm en stukke vleis uit sy been en arms geruk.

In Bloemfontein is ’n tweejarige dogtertjie ’n paar weke gelede in haar ouerhuis doodgebyt, na bewering deur haar ouers se pitbull.

En vroeër die week lees ek op Die Burger se voorblad die storie van ’n heldhaftige seuntjie in Wesselsbron wat meer as 30 keer deur twee pitbull-honde gebyt is terwyl hy ’n maatjie probeer beskerm het.

Ek het geen idee of my optrede die rede is hoekom Billy oorleef het nie, ek hoop maar so, want vir die res van my lewe sal ek ’n misvormde vinger hê om my aan daardie traumatiese dag te herinner. Die uiteinde kon egter soveel erger gewees het.

Talle lande het uiters streng wetgewing wat die besit van hierdie honde beheer, en in lande soos Duitsland en Nieu-Seeland word dié honde verbied.

Wanneer gaan die owerhede in Suid-Afrika wakker skrik en soortgelyke wetgewing instel?

Elke keer hoor jy dieselfde verskonings. “Dit was ’n ongeluk. My hond is eintlik glad nie aggressief nie.” Ander meen dis die eienaars en nie die honde se skuld nie.

Maar kom ons vee liewer ons gatte daaraan af, dis immers iets wat ons almal mee goed is.

Meer oor:  Klitsgras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.