Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Margharet en Chris: Wanneer is snaaks nie snaaks nie?
’n Vrou stuur ’n baie private foto van haar per ongeluk aan die verkeerde Whatsapp-groepie en die volgende oomblik is sy die grap van die wêreldwye web. Is dit snaaks? Of is dit allesbehalwe? ’n Man en ’n vrou gee elkeen hul mening.

Werner Scheffer: ‘Dankie dat jy ons laat lag het’

Werner Scheffer.

Liewe Margharet

Ek het nog altyd geglo die antwoord lê in tegnologie en dat dit eendag die verskil sal maak. Nou het dit. . .

In sowat 24 uur het ’n groot deel van Suid-Afrika die geleentheid gehad om net vir ’n minuut of twee weer te glimlag. Te vergeet van al die negatiewe en sieldodende berigte wat elke dag op die voorblaaie verskyn.

Ons het geglimlag vir ’n fout wat iemand gemaak het. Daar is immers baie erger dinge in die lewe, en ek persoonlik het al baie groter foute gemaak, dalk het julle ook?

In sulke gevalle lag ’n mens nie vir die persoon nie, maar eerder saam met die persoon.

Die kreatiwiteit wat binne enkele minute uit alle uithoeke van Suid-Afrika gevloei het, was aansteeklik en die memes en grappe het geloop. ’n Goeie sin vir humor is een van die min dinge wat nog gratis is, ons moet dit benut en vrygewig deel.

Die stoute kiekie wat sy per ongeluk gedeel het, was van iets wat die helfte van die bevolking het en die ander helfte gedurig oor droom.

Margharet, jy is ’n dame wat glo dat speserye nie slegs in die kombuis hoort nie, maar ook in die slaapkamer en daarvoor moet ’n mens jou hoed afhaal.

Hierdie glips het reggekry wat bitter min foto’s kan regkry.

* Schweizer-Reneke in Noordwes is skielik op die map geplaas. Almal weet nou waar dit is!

* Hokkie as sport het geweldige belangstelling gekry, ’n hupstoot as’t ware, en as iets enige sportsoort kan bevorder, is ek 100% gelukkig daarmee. Die minister van sport behoort ook te wees.

* Ouers se betrokkenheid by hul kinders se sport het die hoogte ingeskiet. Talle pa’s het by elke moontlike Whatsapp-groepie aangesluit om op die hoogte van sake te bly, en dit is vir my mooi.

Margharet, jou naam kan in al die kategorieë van Trivial Pursuit opgeneem word: Sport, geografie, vermaak, kuns, wetenskap en natuur. Dit is ongelooflik, jy moet trots wees. Ek sou.

Jy het reeds jammer gesê vir almal en dit is genoeg. Ons as Suid-Afrika moet eintlik vir jou dankie sê. Want jy het ons laat glimlag en ons daaraan herinner dat enigiemand ’n fout kan maak. Oor ’n dag of twee is die foutjie vergewe en vergete.

Of Chris al gery het of nie, maak nie regtig saak nie. Ons weet wel hy ry lekker en dit is al wat tel.

Groete en wees rustig, daar is baie belangrike mense in hierdie land wat daagliks baie erger dinge doen, sonder skaamte, en dit is hulle wat eintlik jammer moet sê.

Jy is reeds vergewe die oomblik toe jy die “send”-knoppie gedruk het.

Beste wense

Werner

* Werner Scheffer is ’n kliëntediensbestuurder by ’n eiendomsgroep in die Kaap.

Annelise Erasmus: “Dis nie haar skuld nie”

Annelise Erasmus.

Vir diegene wat nie weet wie sy is nie, hier is ’n kort opsomming: Margharet het ’n baie intieme foto van haarself geneem wat sy vir iemand wou stuur. Toe stuur sy dit per ongeluk na die hokkie-ouers se Whatsapp-groep toe.

Ongelukkig vir Margharet, wat in Schweizer-Reneke bly, het iemand op daardie groepie toe ’n skermgreep van die foto sowel as haar onmiddellike verskoning en verduideliking geneem en dit op sosiale media gedeel.

Nie eens daardie wegholvure van die Wes-Kaap is so vinnig en so vernietigend soos Twitter en Facebook nie. En dis natuurlik onmoontlik om daardie vlammetjie dood te blaas nadat hy in droë gras geval het. En niks is so droog soos die morele bos waarin hierdie vuurhoutjie gegooi is nie.

Sosiale media het ontplof.

Nou kyk, so ’n foutjie is nogal snaaks. En ons Suid-Afrikaners het ’n spesiale talent vir grappies oor aktuele sake maak. Daar was skreeusnaakse memes en ’n mens kan nie eintlik iemand kwalik neem wat ’n meme gemaak of gedeel het nie. Dis snaaks, demmit!

Maar alles oor die storie is nie snaaks nie. Eintlik is die grootste deel van die storie hartseer en onaangenaam en wreed.

Haar naam is saam met die foto die wêreld ingestuur. Sy bly op ’n klein dorpie, daar is nêrens waar sy en haar gesin kan wegkruip nie. Enigiemand weet dat jy ten minste iemand se naam wegsteek as jy iets van iemand anders met die internet-wêreld wil deel.

Sommige “grappies” is nie slim nie, dis kru en afbrekend, vulgêr en persoonlik – direk gemik daarop om Margharet te verneder.

Voordat sy haar Facebook-profiel kon sluit, is foto’s van haar man en kinder(s) afgelaai sodat dit in memes gebruik kan word.

Daar word bespiegel oor vir wie die foto “regtig bedoel was”.

Sy en haar liggaam word soos ’n besitting bespreek – openlik op forums oral in sosiale media.

En hier is die kern van die saak: Sy verdien nie een stukkie van wat nou met haar gebeur nie, want sy het niks verkeerd gedoen nie. Om iets per ongeluk na die verkeerde ontvanger te stuur is nie verkeerd nie, dis bloot ’n ongeluk. Dit maak nie saak vir wie sy wat afgeneem het en wou stuur nie. Dit het niks met enigiemand te doen nie.

Weet julle wie was verkeerd? Die persoon wat die skermgreep gemaak en aangestuur het. En daardie persoon gaan nooit die gevolge van sy of haar dade hoef te dra nie? Daardie persoon, wat nooit sal erken dis hy of sy nie, is die vark in hierdie verhaal. Dis daardie persoon wat die vuurhoutjie getrek, dit in die droë gras gegooi en gekyk het hoe die vuur iemand anders se lewe verwoes.

Daardie mens verdien ons minagting en afkeer. Wat van ’n paar memes oor hom of haar?

Natuurlik sal die ou refrein weer gesing word: Moet nooit intieme foto’s van jouself neem of vir enigiemand stuur nie.

Die beginsel waarop so ’n waarskuwing rus is só verkeerd dat dit verstommend is dat dit steeds gepredik word. En dit dra by tot die probleem.

Hier is die punt: As jy ’n selfie van jou bors of boud of been of enige ander liggaamsdeel neem, besit jy daardie foto. As enigiemand anders as jyself dit op die internet of op enige ander manier sonder jou toestemming versprei, is jý nie die een wat iets verkeerd gedoen het nie. Die verspreider is die skuldige.

Om elke keer die vinger te wys na die een wat die selfie geneem het, is presies dieselfde as om ’n verkragtingslagoffer daarvan te beskuldig dat hulle die verkragting uitgelok het met hul kleredrag. Dit plaas die skuld op die slagoffer.

Eendag gaan ons dalk gesofistikeerd genoeg raak oor seks dat ons nie soos laerskoolkinders gaan optree as iets soos hierdie gebeur nie. Eendag gaan ons dalk empatie aanleer, sodat ons nie dadelik op die wreedste manier reageer soos die “brandstigter” in hierdie geval gedoen het nie.

Eendag gaan ons genuanseerd na situasies rakende seks en seksualiteit kan kyk en raaksien waar die skuld eintlik lê. Eendag, hoop ek, gaan ons van ons morele troontjies afklim en ophou om almal om ons gedurig te oordeel en te straf ook.

* Annelise Erasmus is ’n skrywer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.