Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Marida Fitzpatrick: ‘Soos om slegte troue by te woon’
Marida Fitzpatrick

Daar eindig die staatsrede toe sonder geweld of beserings, vuisgevegte of uitsmyters. Die grootste drama was lede van die EFF en die speaker wat mekaar “honourable” toegesnou het.

Almal wat ’n geveg verwag het, het teleurgesteld uitgestap. Ná die hoogdrama van verlede jaar se parlementsopening was vanjaar s’n ’n algehele antiklimaks, ’n afgeblaasde ballon.

“Dit was beter toe die EFF hier was,” het een van die internasionale ambassadeurs in die middel van pres. Jacob Zuma se droë toespraak opgemerk en ’n gaap onderdruk.

Dít was nadat die rooi barette sommer vroeg al hul oorpakke gevat en uitgestap het ná hul bra flou en voorspelbare pogings om die staatsrede te ontwrig. Ook die DA se pogings om snydende kommentaar te lewer en die president te tart, was futloos.

Zuma was natuurlik, soos altyd, die grootste teleurstelling. Sy toespraak was droog en oninspirerend, en dit was lagwekkend hoe hy die ekonomie se probleme breedvoerig uitgelê het, asof hy totaal onbewus is van die feit dat hy self die ekonomie se grootste probleem is. Natuurlik het hy ook nie een woord gerep oor die Nhlanhla Nene-ramp waarmee hy eiehandig die rand die dieptes in laat tuimel het nie.

Nie eens Zuma se drie vroue kon dit regkry om ’n greintjie geesdrif vir hul man en president te veins nie. Die grootste deel van sy toespraak het hulle nie eens vir hom gekyk nie.

MaKhumalo, sy eerste en oudste vrou, het vaak en verveeld gelyk, Thobeka Mabhija was die heeltyd op haar foon en Bongi Ngema het onbelangstellend rondgekyk.

Wanneer die ANC-LP’s hul president met applous toegejuig het, het Zuma se vroue meestal nie eens saam hande geklap nie. MaKhumalo se gesigsuitdrukking was ’n eggo van die speaker, Baleka Mbete, se vroeëre woorde aan ’n EFF-LP: “I am not wanting to listen.

En dis dalk hoe die hele Suid-Afrika oor Zuma se staatsrede gevoel het. Niemand wil meer na hom luister nie. Niks wat hy sê dra enige geloofwaardigheid nie. Dis asof niemand, nie eens die EFF, meer die nodige energie kan opwek om met enigiets anders as vuisvose apatie op Zuma te reageer nie. Dis asof die land nie eens meer die krag het om kwaad en teleurgesteld te wees nie.

Voor die parlementsopening is daar doringdraad gespan en skokgranate afgevuur. Die polisie het gereed gemaak vir groot moeilikheid, die joernaliste vir hoogdrama. Toe gebeur niks anders as die EFF wat “Zupta must fall” dreunsing toe hulle heel vreedsaam en uitstap nie.

Vanjaar se staatsrede was soos om ’n slegte troue by te woon. Suid-Afrika is die bruid en Zuma die bruidegom. Almal weet die bruid verdien beter en die bruidegom is ’n ploert. Niemand het hoop vir die paartjie se toekoms nie en weet die bruid kan net gelukkig wees as sy haar mislukking van ’n man los. Die ander mans (die DA en EFF) sleep hul stoele nader, drom om die bruidegom saam wanneer hy sy toespraak gee en probeer hom kastig tart en opdraand gee, maar nie een van hulle het juis krag of lus daarvoor nie.

En wanneer die paartjie die onthaal uiteindelik verlaat, laat dit die gaste nie met enige sterk gevoelens soos blydskap of woede nie, net ’n dowwe hartseer, net die neerdrukkende besef dat iemand hierdie gedoemde huwelik moes keer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.