Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Lood se praatjies
Markus Jooste, die kabaretster en die lied

Markus Jooste, die kabaretster en die lied

Die land se tergendste onopgeloste raaisel – waar Markus Jooste hom bevind – het nou ’n nuwe dimensie binnegegaan. Dit met sy ongekende vertoon van minagting vir die slagting in die pensioenfondse van baie mense wat hy veroorsaak het.

Dink hy werklik hy kan vir altyd verdwyn? Dalk beplan hy juis dit. Nou blyk dit dat hy steeds kontak met bepaalde mense hou. Selfs Elsabé Zietsman, die Johannesburgse kabaretster, het namens hom probeer praat. Dalk doen sy navorsing vir ’n volgende kabaret – of eerder ’n Griekse tragedie?

Jooste se arrogansie, om ’n dreigende WhatsApp-boodskap aan ’n sakevennoot te stuur, herinner aan mafiagedrag. Om die Frank Sinatra-liedjie I Did it My Way rond te stuur en aan te voer dat hy ’n “tydelike probleem” beleef, laat die vermoede ontstaan dat Jooste se begrip van die werklikheid aan die wyk is.

Elsabé en ander pelle, sê hom ons soek hom.

 

Los beledigende terme

Dit het al deel van die Suid-Afrikaanse karakter geword dat ons oor alle grense heen by robuuste debatte betrokke raak wat meermale heel (te) hittig raak. Maar omtrent almal maak hulle te veel skuldig aan beledigings, kategorisering en persoonlike opmerkings. Lood wil AfriForum nou nie noodwendig tot engeltjies verklaar nie, maar prof. Adam Habib se verwysing na Kallie Kriel en kie as Nazi’s is erg onkant en onvanpas.

Persone van die week

RAAKVATTER: Pres. Cyril Rama­phosa. Dit vir net een ding: Sy weie­ring om Tom Moyane, die geskorste SAID-hoof, se regskoste vir sy tugverhoor te betaal. Iewers moet die soustrein gestop word.

NAT VADOEK: Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. Nou eers erken hy “onwettige politieke opdragte” dra by tot swak munisipaliteite. Zweli, dis “onwettige ANC-opdragte”.

Dis toe geen strafskop

Twee dorpspanne het glo in die 1960’s op Olënpark in Potchefstroom rugby gespeel. Daar word toe by die skeidsregter gekla dat een ou winde in die skrum los. Die skeidsregter waarsku toe die oortreder. En toe dit kort daarna weer gebeur, blaas die skeidsregter op sy fluitjie. Die begunstigde span se skopper stel die bal om pale toe te skop. Maar die skeidsregter keer hom en sê: “Aikôna, vir wind laat mag jy nie pale toe skop nie, jy mag net ’n lynskop vat!”

Volgens Izak Smalman word dit vir die waarheid vertel, maar hy wil nie daarvoor instaan nie. Om soos hy ’n koffiebeker te kry, stuur bydraes na beeld@lood.com of SMS na 45571.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.