Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Martie Retief-Meiring: Lint en ’n strik of twee kan mos alles oplos

O die pyn, die wreedheid, die foltering. Ma vleg my hare – haastig, verwoed.

Skoolfoto’s wys die erg fronsende dikbekgesiggie met twee yslike, triomfantelike strikke aan die vlegsels. Blink, groot, perfek gestrikte linte.

As ’n gewoonte-wegloper het ek alle aanduidings van my geheime vertrek gelaat wanneer ek my linte was, aan die draad ophang, dan mooi oprol as enigste inhoud in my tassie en die pad vat. Tot op die hoek by ses huise verby en dan terug om op die gras te sit voordat my ma my “raaksien” vir ’n Orossie, maar maak asof ek nooit vermis was nie.

Die volgende oggend weer die kastyding. En die stewige strikke.

Strikke het ’n ou, ou geskiedenis. Benewens oulike maniere om diere te vang, selfs in die Bronstydperk, tot die weergalose gebruik van strepe lap – later verhef tot “linte” – om as status, versiering, selfs verleiding, te dien.

In die modegeskiedenis word veral verwys na Lodewyk XIV– die Sonkoning – wat van Versailles amper sy eie Nkandla gemaak het, net met baie meer praal. (Toeval: Die Sonkoning het byna net soveel kinders gehad soos ons president, maar Lodewyk het die moeders van al sy kinders onderdak gegee, net nie met hulle getrou nie.)

Lodewyk het (toevallig) ook van staatskaping ’n fyn kuns gemaak. Nie net het hy alle staatsbeheer uitgeoefen nie, maar hy het dit met onvergelyklike styl gedoen waar strikke tot ongekende modeartikels verhef is.

Só strikbevange was mense dat nie net skouers, rokke en knieë met strikke getooi was nie; pronkerige mans het ook graag hul . . . wel, manlikheid met strikke blink lint getooi (ek het dit in Diana de Marly se modegeskiedenis gelees, maar geen afbeeldings gesien nie).

Die Britte se hoogste staatserkenning het ook met ’n lint te doen: the Order of the Garter.

Wat ek gesien het, was ’n blink Porsche in ’n moewiese groot lint gedraai met ’n yslike strik, amper so groot soos die kar self, bo-op. Dit was glo ’n present vir iemand se vrou. Die strik, eerder as die kar, het tonge losgemaak. Maar wie is ek om saam te skinder?

In my jong dae het mans knaend strikdasse gedra – eers geknoop en later, lyk my, sommer klaar geknoop gekoop. Daar is tog iets vermakerig aan ’n strikdas. Terloops, ’n gentleman sou glo altyd sy das self knoop.

Daar is nie net roubande of linte aan medaljes of om vorstelike borste gedrapeer nie. In ons tyd het ’n geel lint om ’n boom spesiale betekenis.

Die werklike oorsprong was glo in die vroeë sewentigs met die liedjie “Tie a Yellow Ribbon Round the Ole Oak Tree” toe ene Gertrude Magruder haar man uit die tronk laat weet het hy is welkom tuis. Daarna is geel linte oral aangebring vir terugkerende soldate uit oorloë.

Die hare waai deesdae oor hare. ’n Strik of twee kan mos alles oplos.

Meer oor:  Martie Retief-Meiring  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.