Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Martie Retief-Meiring: Maar Ma, wat is ’n faksie dan nou juis?

Die tienjarige vra sy ma: “Ma, wat is ’n faksie?”

Sy ma (en ek) dog die kind het mense hoor “lelik” praat. Gelukkig was dit nie dáárdie “lelik” nie, dit was tydens die pa-en-seun-naweek waar die pa’s lustig oor faksies gepraat het “wat nou die toekoms van die land gaan bedonner”.

Pa’s kan tog so los praat.

Sy ma probeer darem: “Boeta, faksies is iets binne iets. Soos, het julle nie bendes in die skool nie; jy in die Valke-bende en Stevie-hulle in die Arende, maar julle is almal in dieselfde skool. Net . . . ”

Maar Boeta is baie beslis: “Ons het nie bendes nie. Ons het gangs. Maar Pa-hulle praat dat Zuma se faksie sal val, en die hel sal los wees as sy vrou sy plek kry.”

Weet pa’s dan nie wát sulke oortjies hóór nie?

Faksies is die nuwe gonswoord. Dis saamsit in die koukus en miskien anders knoei op geheime plekke. Selfs vir grootmense tower dit gesprekke op wat in parke gehou word waar geen elektroniese fieterjasies kan afluister nie; dalk geheime handdrukke; al daardie dinge wat spioene doen om boodskappe oor te dra: brilglase afvee, koerante op banke laat lê, sakdoeke uithaal en kammakastig nies.

Dis ’n klassieke ding: faksies en dikwels verraad was Shakespeare se kos. Kyk hoe arme Julius Caesar deurgeloop het onder sy vriend Brutus. Romeo en Juliet moes mekaar vind onder die faksies van die Montagues en die Capulets.

Dat Boeta so gepla word deur faksies moet beslis tekenend van die algemene landsgevoel wees. Praat ons nie ons nou uit oor “gaan koalisies nie tot meer faksievorming lei” nie? Gaan die faksies in Zuma se uitgebreide heerskappy dit oorleef ? Vir hoe lank? Sal Johannesburg se ANC-grotes van voor die verkiesing hoegenaamd oorleef in die verwagte slagting binne die party? Hoe eensgesind is die sogenaamde Topses?

Moet ouers nie maar al aan die Boetas en Sussies laat weet nie dat ons in ’n land vol regte politieke faksies (nie bendes nie, ook nie heeltemal gangs) leef? Boeta en Sussie sien tog op TV die oom wat so snaaks praat asof hy nie woorde sê nie maar net iets grom; is daardie oom ’n faksie? En daardie ander groot oom wat so langs meneer Zuma so sleg dans, is hy ’n faksie?

Boeta en Sussie weet goed daardie rooies is die EFF, en luister maar na Boeta en Sussie so tussen hulle – hulle “laaik” daai ouens want hulle is vol action.

Buitendien het Boeta al gesê sy gang sal lekker uitstaan in sulke rooi boiler suits as hulle die Arende volgende week “kry”.

Lyk my, Boeta dink nie Juju-hulle het ’n faksie nie. Hulle lyk, skreeu en dans dan almal dieselfde. Tyd vir die bloues om almal (blou) keppies te dra – of nekdoeke, ha!

meiring@lando.co.za

Meer oor:  Martie Retief-Meiring  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.