Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maties word doeltreffend en eerlik bestuur
Jan-Jan Joubert, skrywer van die boek Wie gaan in 2019 regeer?

Vandag wil ek graag ’n bietjie gesels oor die Universiteit Stellenbosch, wel wetend dat ek my kop in ’n byenes druk.

Eerstens, ’n belangeverklaring: Ek is besig met ’n meestersgraad in geskiedenis by Maties, en ek doen die graad in Afrikaans omdat ek wil en omdat die universiteit verhandelinge in Afrikaans verwelkom.

Dis nou al ’n rukkie dat ek wil vertel van ’n ervaring wat ek tydens vanjaar se Woordfees op Stellenbosch gehad het.

Dit was in vraetyd ná die debat tussen John Steenhuisen van die DA en dr. Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus oor watter soort opposisiepolitiek vir Suid-Afrika voorlê.

Toe vraetyd aanbreek, is daar ’n elegant geklede vrou van Mosselbaai wat opstaan om te sê: “Ek dink ons moet nou almal saamstaan teen Wim de Villiers en Edwin Cameron in belang van Afrikaans.”

Dit was ’n vreemde ervaring, eerstens omdat dit absoluut niks met die gesprek te doen gehad het nie (Waldimar Pelser in die voorsitterstoel het haar dan ook tereg buite orde gereël), en tweedens omdat haar stelling die soort ding is wat mense dikwels sê of in briewekolomme kwytraak, maar ek dink diegene wat dit doen, moet asseblief weer dink.

Vir dié van ons wat op universiteit was, was dit dikwels en om verskeie redes van die lekkerste ervarings van ons lewens. Ons wil help dat die jeug van die hede en die toekoms ook sulke gelukkige ervarings kan hê.

Wat ons dikwels vergeet, is dat die beeld wat ons van die universiteit het, amper soos ’n foto is – ’n oomblik vasgevang in tyd, in ons gedagtes.

Wat ons dikwels vergeet, is dat die beeld wat ons van die universiteit het, amper soos ’n foto is – ’n oomblik vasgevang in tyd, in ons gedagtes.

Maar as ons onthou dat min studente meer as vier jaar op kampus deurbring, moet ons aanvaar dat die kampusbevolking elke vier jaar bykans volkome verander. Almal is Maties, en diversiteit is ’n wonderlike en verrykende voorreg.

Voorts het ek gewonder of die Mosselbaaise vrou besef dat, as sy reg was, sy nie daar sou wees nie. Want as De Villiers en Cameron en Stellenbosch teen Afrikaans was, sou daar nie ’n Woordfees wees nie. Dit is ’n inisiatief van die universiteit en uit die universiteit. Daar is soveel ander voorbeelde, as mense hulle maar net van die feite wil vergewis. Trouens, met die moontlike uitsondering van Naspers doen geen instansie meer vir Afrikaans as die Universiteit Stellenbosch nie.

Maar daar is meer. Die universiteit is in uitstekende toestand, dit word doeltreffend en eerlik bestuur, die akademiese standaard is puik, en jy kan nie glo hoe vriendelik, toeganklik en akkommoderend die personeel is nie.

Ek vind die studente ongelooflik goedgemanierd – hulle groet ’n mens vriendelik en sal maklik opstaan om hul sitplek aan jou as ouer persoon aan te bied.

’n Laaste vraag: As sy en ander sou slaag in hul bedenklike pogings om twee eerbare mense soos De Villiers en Cameron verdag te maak en van hulle ontslae te raak, wie dink hulle gaan die posisies vul, en hoe gaan dit beter wees vir die universiteit en die taal?

Miskien sal hulle nogmaals leer dat sommige mense nooit iets waardeer tot hulle dit verloor het nie.

  • Joubert is ’n skrywer en onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Jan-Jan Joubert  |  Studente  |  Woordfees  |  Nostalgie  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.