Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: AfriForum ...Ons is nie almal so
Max du Preez

So gepraat van die buitmaak of kaping van staatsinstellings. Ons ervaar tans ’n ander, subtieler, maar myns insiens ewe sorgwekkende kaping: dié van die Afrikanerhoofstroom deur Solidariteit en AfriForum.

Solidariteit het sy wortels in die ver-regse Mynwerkersunie, maar in die moeder van alle makeovers het dit die laaste anderhalf dekade gegroei tot ’n beweging wat hom as die outentieke stem van en kampvegter vir Afrikaners posisioneer.

Solidariteit en veral sy hoofspruit, AfriForum, was strategies so briljant dat dit vandag as sulks deur die meeste Afrikanermeningsvormers en Afrikaanse media behandel word – selfs die sogenaamde progressiewes. Dit laat my half aan die apartheidsdae dink toe daar van Engelse liberales gesê is hulle praat Prog, behoort tot die Verenigde Party en dank die Vader vir die Natte.

Kyk, Solidariteit self is ’n goeie vakbond vir sy lede en AfriForum is in sommige opsigte ’n model vir ander burgerlike aktiviste. Hulle doen byvoorbeeld puik werk om plaaslike owerhede op hul tone te hou.

Die beweging het boonop ’n briljante sakeplan wat dit een van die heel rykste nieregeringsorganisasies gemaak het. Die inkomste kom nie net uit die maandelikse bydraes van die 150 000 Solidariteit-lede en die 172 000 AfriForum-lede nie, maar van die sake-afdeling en die sake (soos versekering) wat met al dié lede gedoen word.

Dit is alles goed en wel, so ook dat Solidariteit vier SAUK-joernaliste met ’n hofsaak bystaan (hoewel ek ’n sterk opportunistiese reuk optel – net twee weke gelede, byvoorbeeld, het die hooggeregshof in die Kaap gesê AfriForum se regstappe teen die Stellenbosse aktivis Johan Pienaar sou ’n “chilling ­effect” op vrye spraak gehad het).

Maar hier is die probleem. AfriForum smous met vrees en etniese mobilisering. Hulle dien net die belange van Afrikaanse Christene. Hulle het al herhaaldelik gedemonstreer dat onverdraagsaamheid, intimidasie, konfrontasie en die uitlokking van geweld deel van hul arsenaal is. In die oë van die meeste swart Suid-Afrikaners is hulle rassiste en as sulks het hulle die persepsie van wie Afrikaners vandag is, baie skade berokken. Ek het al SMS’e gesien waarin AfriForum sê dat die ANC Afrikaanse skole wil afskaf en die helfte van Afrikaners se ondernemings wil afvat – as jy dit wil voorkom, sluit by AfriForum aan.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het verlede week ná nóg ’n AfriForum-hofsaak die groep as “verdelend en ietwat selfsugtig” beskryf en gesê dit is “ironies” dat hulle hul op die aanhef tot die Grondwet beroep.

AfriForum het Afrikaanse koerante ná die debakel van die Nazi-saluut op Potchefstroom so gedreig en geïntimideer dat van dié koerante deesdae by hulle witvoetjie soek en huiwer om negatiewe berigte oor hulle te plaas.

Ek het self op die kampusse van Pretoria, Stellenbosch en Bloemfontein gesien watter skade AfriForum se stormtroepe die saak van Afrikaans en Afrikaners aangerig het. (In sy uitspraak in die Pienaar-saak het regter A.J. Donen gesê die AfriForum-protesteerders op Stellenbosch het hulle aan “aanranding, seksuele geweld, seksuele aggressie en intimidasie” skuldig gemaak.)

Enige kritiek op AfriForum word met aggressiewe, geniepsige veldtogte op sosiale media en elders teengestaan.

Is dít die ware gesig van Afrikaners in 2016? Hopelik nie.

As jy weer die vlam van eksklusiewe Afrikanernasionalisme en afsonderlikheid (en gepaardgaande buffelagtigheid en rassisme) hoog wil sien brand, sluit by AfriForum aan.

Indien nie, stuit dié kaping van Afrikaanswees en sê kliphard: Ons is nie almal so nie.

Meer oor:  Max Du Preez
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.