Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Die ANC moet gou val
Pres. Cyril Ramaphosa en Malusi Gigaba. Foto: Siyabulela Duda

Die ANC moet val – maar asseblief eers ná volgende jaar se algemene verkiesing.

Dit kan baie sleg vir ons stabiliteit en ons ekonomie wees as die ANC minder as die helfte van die stemme in die komende verkiesing kry, want die kanse is dan goed dat hulle in koalisie met die EFF gaan regeer. Julius Malema sal dan sekerlik sorg dat hy ’n sleutelpos kry. (Skielik gaan daar ’n koue rilling deur my lyf.)

Maar die hoop dat Cyril Rama­pho­sa dit sal kan regkry om die ANC te moderniseer, van sy ou struggle-maniertjies ontslae te raak en só die land effektief met ’n nuwe visie regeer, vervaag by die dag.

Hoe meer Ramaphosa op top-vlak regkry, hoe meer sien ons aanduidinge dat sy party in sy kern waarskynlik te verrot is om te hervorm. Dit is veral waar in provinsiale en plaaslike strukture in Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Noordwes en die Vrystaat.

Die geval Malusi Gigaba wys vir ons dat die president allesbehalwe ’n vrye hand het om na goeddunke aanstellings en afdankings te doen. Faksies in die party bepaal wat is moontlik en wat nie.

Daar is oorweldigende getuienis dat Gigaba ’n aktiewe rol gespeel het om die Guptas en ander se kaping van die staat moontlik te maak. Sy rekord as minister in verskeie portefeuljes is pateties. Sy persoonlike lewe is ’n gemors en speel gereeld in die openbaar uit. En nou het die openbare beskermer met die howe saamgestem dat hy onder eed gelieg het.

Maar Sondag het hy in ’n televisie-onderhoud die president subtiel gedreig om hom nie af te dank nie.

Maar Sondag het hy in ’n televisie-onderhoud die president subtiel gedreig om hom nie af te dank nie. Daar is ’n sameswering in sekere ANC-kringe om van hom ontslae te raak en sy kanse om eendag president te word, te ondermyn, het hy gesê. Hy gaan nie bedank nie, en hy gaan beslis nie van die politieke toneel verdwyn as hy afgedank word nie – ’n duidelike dreigement. Gelukkig staan die ANC-jeugliga agter hom, sê hy.

Nhlanhla Nene het onlangs die voorbeeld gestel deur te bedank nadat hy uitgevang is dat hy oor formele ontmoetings met die Guptas gejok het. Gigaba se sondes – en die van ministers Bathabile Dlamini en Nomvula Mokonyane – is honderd keer erger, maar hulle is van die anti-Ramaphosa-faksie en kan dus nie so maklik afgedank word nie.

Ander voorbeelde van die ANC se ernstige etiese armoede is die R2 miljoen wat dit van VBS Mutual Bank se grootste aandeelhouer ontvang het – en die bontspringery daaroor – en die feit dat Qedani Mahlangu van Life Esidimeni-tragedie-faam en Brian Hlongwa wat waarskynlik aan ernstige korrupsie skuldig is, as lede van die Gautengse ANC se leierskorps behou word.

As die ANC se wiele in die volgende vyf jaar aanhou afval, kan ons dalk die begin van ’n breë herrangskikking van politieke verdelings sien.

Soos dit nou lyk, vorm die Ramaphosa-deel van die ANC en ’n goeie helfte of selfs meer van die DA die werklike sentrum van ons politiek – breedweg sosiale demokrate. (Die IVP, Cope, die ACDP en die UDM hoort ook in die groep.) Dit is sekerlik heelwat meer as die helfte van die kieserskorps.

Links daarvan sal elemente soos die EFF en Zwelinzima Vavi se Saftu groepeer, en regs daarvan die konserwatiewes in die DA, die Vryheidsfront Plus en AfriForum-gesindes.

As dit inderdaad gebeur, sal Suid-Afrikaners uiteindelik op grond van oortuiging eerder as ras, streek of geskiedenis hul politiek uitleef, wat ’n gesonde verwikkeling sal wees.

Lande met ’n sterk sentrum is oral in die wêreld en in die geskiedenis gewoonlik die mees stabiele nasies.

Du Preez is ’n joernalis, skrywer en politieke ontleder.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Max Du Preez  |  Malusi Gigaba  |  Guptas  |  Anc  |  Staatskaping  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.