Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Die rasduiwel is los in SA
Grafika24

Dit voel amper asof ordentlike wit Suid-Afrikaners deesdae net twee keuses het: hou jou smoel heeltemal toe of weeg elke woord tien keer voordat jy dit uiter, net ingeval iemand êrens iets rassisties daarin gaan lees.

Tensy jy regtig ’n rassis is, natuurlik, dan is dit maklik: Kompeteer lustig met die swart heethoofde oor wie die vure van rassehaat die hoogste kan aanblaas.

Ons is nie op ’n goeie plek hier aan die begin van 2016 nie. Die rasduiwel is los en die kanse is goed dat die populiste en die voorbokke van die hervatte studenteproteste gaan probeer om die kole aan die smeul te hou.

’n Paar dae gelede het ene Fezile D. Makhathini getwiet dat as hy op twee lesbiërs afkom wat seks het, hy hulle “definitief” sou verkrag “totdat hulle straight is”.

Toe ander Twitter-gebruikers hom aanspreek, was sy reaksie: “F—k you all, I’m 17 and entitled to hate.”

Jip, ek is jonk en swart en ek is daarop geregtig om te haat. Al was sy twiet gemik op homoseksualiteit eerder as ras, lyk dit asof Makhathini nie die enigste een is wat glo hy het die reg om te haat nie.

Daar was letterlik dosyne swart mense wat die laaste week op Facebook of Twitter (en sekerlik heelwat meer in kroeë en klubs en in private gesprekke) verklaar het dat wit Suid-Afrikaners uitgeroei behoort te word.

Nie een van dié gevalle het juis op die Sparrow-skaal as ’n skandaal geregistreer nie, en die voormalige EFF-LP Andile Mngxitama het selfs vir van hulle in die bresse getree.

Wit regses is effens dieper in die skadu’s, maar nie minder vol haat nie.

Dis tyd vir k—rs skiet, was die boodskap van ’n hele klompie wat ek raakgeloop het.

En daar was heelwat oor “hulle” wat beter met aanteel is as met regeer.

Daar is twee verskille tussen die wit en swart haatsmouse. Die wittes word deur die oorweldigende meerderheid Suid-Afrikaners, wit mense inkluis, verwerp en as immoreel en gevaarlik gesien, terwyl die meeste swartes eintlik maar daarmee wegkom en baie mense groot begrip vir hulle toon.

Die ander verskil is dat niemand swart mense se reg op volle burgerskap betwyfel nie, maar, soos die aktivis Kay Sexwale dié week aan wit mense gesê het: “Dit is nie julle land nie. Julle is die afstammelinge van onwettige immigrante. Julle is gaste. Gedra julle so.”

(En pres. Jacob Zuma het gesê ons het die grond gesteel . . .)

Max du Preez

Goed, dis seker nie heeltemal dieselfde ding nie. Die wit rassiste verlang terug na apartheid en sien swart mense as minderwaardige wesens.

Die swart rassiste, sou ’n mens kon redeneer, reageer eintlik net op die historiese onreg wat hulle aangedoen is en die gevolge van apartheid wat steeds om ons is. Hul haat berus dus nie op ’n sin van rasmeerderwaardigheid nie.

Iemand het laas week kwaai op my rubriek gereageer en gesê: “Wat ons sien, is nie soseer wit rassisme as wat dit outrage is nie” – verwysende na die ANC se wanbestuur van die land en die ekonomie.

Ek sou graag wou redeneer dat enige intelligente mens sou verstaan dat die ANC en Zuma ons nie vrot regeer omdat hulle swart is nie, maar omdat hulle magsugtige, onbeholpe politici is. Daar is immers ewe vrot wit presidente en regerings elders in die wêreld en in die geskiedenis.

Maar dit is nie so eenvoudig nie. Zuma en baie van sy senior ANC-kollegas, en natuurlik politici soos dié in die EFF, maak dit self duidelik dat hulle dit as ’n swart regering sien wat swart mense van die voortslepende “oorheersing” van nare wit mense moet verlos.

Dit is nie heeltemal ’n slegte idee dat wit Suid-Afrikaners hul woorde voortaan versigtig moet tel nie. Dit dwing ons om swart sensitiwiteite en seerplekke raak te sien.

Maar op die oomblik praat die regses en rassistiese wittes die hardste; die res van ons is te versigtig. Dit is gevaarlik.

Ons sal weer ons tonge moet ­terugkry en die res van ons same­lewing moet help verstaan dat die prentjie wat die haatsmouse skets, nie die volle werklikheid is nie.

Buite die ryk van sosiale media en dronkpraatjies om die braaivuur is die meeste Suid-Afrikaners meestal meelewend en verdraagsaam.

Merkwaardig meelewend en verdraagsaam.

Meer oor:  Afrikaans  |  Rassisme  |  Max Du Preez  |  Rasse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.