Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Dis pure boere-verneukery
Die EFF-leier Julius Malema (voor) en onderleier, Floyd Shivambu, op ’n onlangse nuuskonferensie. Foto: Deaan Vivier

Wat noem jy ’n sosialis wat in ’n motor van R800 000 ry en met ontwerperstasse ter waarde van R124 00 oorsee reis, maar ’n rooi oorpak in solidariteit met die arm werkers en werkloses dra? ’n Charlatan.

Dit is ’n Franse woord wat aanvanklik verwys het na iemand wat twyfelagtige medisyne verkoop en sy ware met musiek en vermaaklikheid adverteer.

Dus ’n heel gepaste beskrywing van die onderleier van die EFF, Floyd Shivambu.

Shivambu se jongste manewales en sy party se veldtog om die media te intimideer en teenstanders en kritici met ongesubstansieerde bewerings te beswadder, wys die EFF is paniekerig dat sy revolu­sionêre kleed afgeruk gaan word en sy leiers gesien gaan word as net nóg ’n spul korrupte en geldgierige skelms.

Volgens die Daily Maverick het hulle inligting dat Shivambu se kleinboetie, Brian, wat glo R16 miljoen by VBS Mutual Bank gekry het vir ’n jaar se “konsultasiewerk”, R10 miljoen daarvan vir hom gegee het. Floyd ontken dit ten sterkste.

Hy het nou ’n bisarre smaadskrif van 6 400 woorde geloods waarin hy vir minister Pravin Gordhan belaster as die sinistere hoof van ’n almagtige “kriminele kabaal”.

Hy het nou ’n bisarre smaadskrif van 6 400 woorde geloods waarin hy vir minister Pravin Gordhan belaster as die sinistere hoof van ’n almagtige “kriminele kabaal” wat vir alle kwaad in Suid-Afrika verantwoordelik is.

Pres. Cyril Ramaphosa, daarenteen, is ’n “afwesige” president wat nie juis omgee oor wat in die staat gebeur nie.

Pravin se kabaal het al die staatsondernemings in hul sak en beheer groot dele van die leuenagtige media, skryf Shivambu.

Die Nugent-kommissie van ondersoek na die Inkomstediens is bloot aangestel om Pravin se skandes te verdoesel.

En die inligting oor Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, se ontmoetings met die Guptas is deur die einste kabaal “en sy makgemaakte Afrikane” gelek om hul houvas op die nasionale tesourie te verseker.

Shivambu se renons in Indiërs is ’n goue draad wat deur die tirade loop.

Shivambu se renons in Indiërs is ’n goue draad wat deur die tirade loop. Hy sê selfs dat die hoof van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, eintlik maar sy adjunk, Kuben Naidoo, se handpop is.

Ten spyte van oorweldigende getuienis tot die teendeel, hou Shivambu vol dat die Inkomstediens se gewese ondersoekeenheid inderdaad ’n onwettige rogue unit was wie se bose werk steeds deur Gordhan voortgesit word.

Dit is vir my duidelik wat die EFF hier doen. Hy vrees die dag dat sy eie skelmstreke, bedrog en korrupsie op die lappe gaan kom en probeer nou om alle instansies wat dit gaan doen, te diskrediteer en só die impak op die party se ondersteuners te versag. Ons het immers ’n verkiesing oor ses maande.

Die EFF het die laaste vyf jaar ongekende publisiteit en welwillendheid by groot dele van die media geniet, heelwat meer as die DA, die amptelike opposisie met drie keer meer kiesersteun.

Dit is betreurenswaardig, veral omdat die EFF dit deur sy gedrag en uitsprake duidelik maak dat ’n vrye media nie juis sy voorkeur is nie. Dit is die enigste party wat joernaliste, soms by name, blatant intimideer en afdreig.

My inligting oor Shivambu se duur smaak kom uit ’n berig in Sondag se Rapport. Sy kamerade Julius Malema en Dali Mpofu is nie ver agter nie.

Malema het in ’n stadium ’n reusehuis in Sandton laat bou en dit is vir R5,9 miljoen op ’n vendusie verkoop. Die Inkomstediens het ’n paar jaar gelede R14 miljoen se belasting by hom geëis.

Mpofu is in 2009 onder ’n wolk en met ’n goue handdruk van R14,1 miljoen by die SAUK weg.

Ja, daar is politici van ander partye wat ook skatryk is, maar hulle is meestal heelwat ouer, gee nie voor hulle is sosialiste nie en paradeer nie primêr as die kampvegters van die armstes nie.

Meer oor:  Floyd Shivambu  |  Vbs  |  Eff  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.