Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Doodswyg gaan niks help nie
’n Somaliese winkeleienaar in die Kuyga-township by Port Elizabeth nadat hy en sy winkel in 2010 aangeval is. Foto: Argief

Een van die grootste oorsake van die skerp toename in populistiese en nasionalistiese politiek wêreldwyd is die groot aantal vlugtelinge uit die Midde-Ooste, Noord-Afrika en Suid-Amerika wat elders ’n heenkome gaan vind het.

Suid-Afrika het ’n groter probleem met onwettige immigrante as die meeste ander lande, en tog is daar ’n persepsie dat dit nie juis ’n impak op ons politiek het nie.

Vreemdelingehaat in veral die townships is ’n alledaagse verskynsel, maar alle politieke partye het hulle ná die bloedige aanvalle op immigrante in 2008 en 2015 skerp hierteen uitgespreek.

Sedertdien is dit polities inkorrek om besorgdheid oor onwettige immigrante uit te spreek. Maar dit is ’n valse korrektheid waaraan min gewone mense hul steur.

Twee politieke leiers het dit in onlangse tye gewaag om dié taboe-onderwerp aan te raak: Johannesburg se DA-burgemeester, Herman Mashaba, en die vakbondleier en leidende figuur in die nuwe Sosialistiese Revolusionêre Werkersparty, Zwelinzima Vavi.

Mashaba het al gesê onwettige immigrante wat Johannesburg “oorstroom”, moet as misdadigers behandel word,

Mashaba het al gesê onwettige immigrante wat Johannesburg “oorstroom”, moet as misdadigers behandel word.

Hy het al op verskeie forums verduidelik dat hy immigrante van oraloor verwelkom, maar dan moet hulle die korrekte dokumente en verblyfpermitte hê. Ma­shaba is deur die ANC, die EFF en vele burgerlike liggame oor sy stellings as ’n vreemdelinghater aangeval.

Vavi het laasweek op Twitter onderaan ’n foto van Moslem-winkeleienaars, duidelik immigrante, geskryf: “Hulle is nuwe winkeleienaars op pad na middaggebede. Loop te veel goed verkeerd? Hoe het hul goedere hier uitgekom? Hoe het dit oor die grense gekom – is belasting betaal? Wat is die impak op die plaaslike vervaardigingsektor? Wat gebeur met werksgeleenthede?”

Hy is dadelik deur die aktivis Zackie Achmat aangeval, wat hom van xenofobie en Islamofobie beskuldig het.

Vavi het dit ontken en gesê dit is nie xenofobies nie om uit te wys dat spazawinkels wat histories deur plaaslike swart mense besit en bedryf is, nou uitgewis is. ’n Hewige Twitter-storm het hierop gevolg.

Die kritiek op Mashaba en Vavi se uitlatings is nie heeltemal onregverdig nie.

Mense in die openbare oog, eintlik ons almal, moet hulle daarvan weerhou om goed te sê wat vreemdelingehaat kan aanwakker of vooroordele kan versterk.

Maar dit gaan ook nie help om die probleem dood te swyg nie.

Maar dit gaan ook nie help om die probleem dood te swyg nie.

En ’n probleem is dit inderdaad: Êrens tussen 2 miljoen en 5 miljoen immigrante in ’n land met ’n bevolking van net oor die 50 miljoen, en baie van hulle brandarm en sonder spesiale vaardighede.

Hulle soek werk, huise, gesondheidsorg en skole vir hul kinders en wedywer só met burgers van die land.

Dit is ook waar dat daar tienduisende immigrante in Suid-Afrika is wat ’n positiewe bydrae tot ons samelewing lewer: sakelui, akademici, mediese dokters, ingenieurs en entrepreneurs.

Beheer die grense behoorlik en sorg dat elke mens wat die land binnekom behoorlik gedokumenteer word.

Ons kan aanvaar dat die meeste, indien nie almal nie, van hulle wettig in die land is. Ek kan my nie indink dat enigiemand ’n probleem met hulle het nie.

Max du Preez

As ons die gevalle van geweld teen immigrante ontleed, sien ons dat die meeste gaan oor mense uit veral Somalië, Pakistan en Bangladesj wat winkels in townships bedryf. Hul ware is in baie gevalle goedkoper as dié van Suid-Afrikaanse winkeleienaars, wat in baie gevalle agter die aanvalle op die immigrante-handelaars sit.

Die oplossing is voor die hand liggend: Beheer die grense behoorlik en sorg dat elke mens wat die land binnekom behoorlik gedokumenteer word.

Maak dit maklik vir mense om om verblyfreg (of politieke asiel) aansoek te doen. Maar dié wat nie suksesvol is nie, moet ongelukkig uitbly.

Maar dit is Suid-Afrika. Te veel amptenare (en politieke leiers) is korrup, lui of onbekwaam. Die probleem gaan net groter word.

Meer oor:  Max Du Preez  |  Geweld  |  Woede  |  Immigrante  |  Rassehaat  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.