Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Genoeg is nou genoeg!
Foto ter illustrasie: Pixabay

Die konsep “kritieke massa”, geleen uit die kernfisika, verwys na die grootte, aantal of intensiteit van iets wat nodig is om ’n sekere resultaat tot gevolg te hê.

Dus, as genoeg mense sterk genoeg oor iets voel, kan hul siening moeilik geïgnoreer word.

Die onthulling van die skouspelagtige plundering van VBS Mutual Bank is dalk net wat Suid-Afrika nodig gehad het om ’n kritieke massa teen korrupsie en magsmisbruik te laat vorm – om die drempel van verdraagsaamheid jeens dié euwels drasties te verhoog.

Die bedrae geld betrokke by die diefstal en bedrog by VBS is minder as dié wat ons met staatsondernemings soos Eskom, Prasa en Transnet gesien het.

Maar die optics hier is anders: Skelms wat voor helikopters en Lamborghini’s pronk aan die een kant, en brandarm oumas wat ure lank sit en wag om ’n paar rand van hul beleggings terug te kry aan die ander kant.

Die slagoffers van die plundering was meestal arm swart mense se stokvels, begrafnisplanne en arm munisipaliteite.

Die slagoffers van die plundering was meestal arm swart mense se stokvels, begrafnisplanne en arm munisipaliteite.

Daar is ’n kumulatiewe effek: Die VBS-skandaal volg op die skok-onthullings voor die Zondo- en Nugent-kommissie, kort op die hakke van die bedanking van Nhlanhla Nene as minister van finansies weens sy oneerlikheid, en die nuus dat die Steinhoff-baas Markus Jooste kort voor sy kaartehuis ineengestort het, sy ryk vriende gewaarsku het om hul aandele te verkoop.

Dit alles gebeur teen die agtergrond van ’n verswakkende ekonomie, toenemende werkloosheid, ’n swak rand, hoë brandstofpryse en stygende lewenskoste.

Die elite steel hulle dik en die res van ons ly daaronder, is die breë gevoel wat ek die laaste paar dae onder gewone mense waargeneem het.

Dit is tyd om ’n streep in die sand te trek.

Pres. Cyril Ramaphosa hou homself verhewe bo al die skelmstreke, maar mense begin al agterdogtig raak oor sy oënskynlike strategie om stil te bly oor korrupsie en staatskaping sodat sy opponente een vir een as skelms uitgewys en geneutraliseer kan word.

Ons ekonomie en ons nasionale moraliteit is op die spel. Ons het ’n proaktiewe leier van inbors nodig, nie ’n politieke taktikus of toeskouer nie.

Hoekom draai Ramaphosa so lank om ’n nuwe hoof van die nasionale vervolgingsgesag aan te stel?

Hoekom draai Ramaphosa so lank om ’n nuwe hoof van die nasionale vervolgingsgesag aan te stel? Strafregtelike vervolging van die korruptes is al wat die publiek nou tevrede gaan stel.

Ramaphosa se weiering om van sy onbevoegde en leuenagtige ministers ontslae te raak, is deel van sy strategie om sy party tot ná die verkiesing in een stuk te hou.

As ek reg is oor ’n kritieke massa wat nou opgebou het, gaan die publiek ook nie veel langer dié verskoning sluk nie.

Soos gewoonlik was daar ’n rits ANC-hoës by die VBS-skandaal betrokke, maar dié keer wys die vingers ook na die politieke partytjie wat “Pay back the money” ’n nasionale dreunsang gemaak het.

Die EFF, die sogenaamde militante “kampvegters van die armstes”, het, so lyk dit, self by die armstes gaan steel.

Die EFF se adjunkpresident, Floyd Shivambu, ontken heftig dat hy R10 miljoen van sy broer Brian gekry het.

Volgens die ondersoekverslag na VBS het Brian R16 miljoen vir kastige “konsultantwerk” by ’n groot VBS-aandeelhouer gekry.

Maar tot dusver oortuig die EFF se protestasies glad nie, veral weens die lagwekkende wyse waarop die partyleiers hulself probeer verdedig.

Tensy die EFF binnekort sy algehele onskuld oortuigend kan bewys, gaan die skandaal waarskynlik ’n groot terugslag wees vir sy poging om in volgende jaar se verkiesing sy kiesersteun na 12% te verdubbel.

As die DA sy kanse nie weer opmors nie, kan hy daarby baat dat hy die enigste party onder die top-drie is wat nie inherent korrup is nie.

Meer oor:  Vbs  |  Anc  |  Max Du Preez  |  Korrupsie  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.