Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Hardekwas skeiebreker?
Tito Mboweni lewer verlede week sy eerste mediumtermynbegrotingsrede.Foto: adrian de kock

Die ANC moes eerlikheid lank­al as ’n verrassende, onkonvensionele taktiek gebruik het. Wat ’n radikale wending.

Tito Mboweni, nuwe minister van finansies, het laasweek met sy mediumtermynbegrotingsrede die eerste ANC-minister geword wat vryelik buite die ANC-ortodoksie (kolonialisme, nasionale demokratiese revolusie, bla-bla-bla) gepraat het – amper soos iemand uit die private sektor.

Hy het sy kritici van links se wind uit hul seile gehaal deur brutaal eerlik te wees, byvoorbeeld:

Al ons geld is gesteel en gemors; ons is dieper as kniediep en ons ekonomie groei nie.

As julle nou wil aandring op ’n groot staatsdiens, meer staats­inmenging en maatskaplike be­steding, sê julle dan vir my waar moet ons die geld vandaan kry?

Nóg ’n styging in BTW? By die Internasionale Monetêre Fonds gaan bedel, wat dan sy eie (mark-fundamentalistiese) voorskrifte aan ons gaan opdwing?

As die SAL nie gou gered kan word nie, moet dit toegemaak word.

Mboweni het nie daar opgehou nie. As die SAL nie gou gered kan word nie, moet dit toegemaak word. Alle staatsondernemings moet weer gekonfigureer word – en daar is geen heilige koeie nie.

Die mure tussen die openbare en private sektore moet afgebreek word. Die kabinet moet van 35 tot 20 ministers gesny word, en die hele uitvoerende gesag van 70 tot 40.

Die staatsloonrekening is onvolhoubaar. Die staat se kapasiteit is swak en moet dringend opgegradeer word. En korrupsie, korrupsie, korrupsie. ’n Paar meter van hom af het pres. Cyril Ramaphosa met ’n breë “dis-my-man-daai”-glimlag in sy bank gesit.

Dit help dat Mboweni nie deel van die verlammende ANC-binne­gevegte die laaste paar jaar was nie.

Hy het klaar gewys in die kabinet gaan hy nie twak van kabouters vat nie.

Hy is welvarend genoeg om nie ’n blink joppie te gesoek het nie. Hy hoef nie om te gee wie wat agter sy rug sê of konkel nie. Hy kan bekostig om ’n rebel te wees.

Hy kan waag wat Pravin Gordhan en Nhlanhla Nene nie kon nie.

Dalk is Mboweni net die vonkie wat Ramaforie ’n tweede asem kan gee. Hy was al in 1994 in Nelson Mandela se kabinet, en daarna president van die Reserwebank.

Hy het klaar gewys in die kabinet gaan hy nie twak van kabouters vat nie. En hy wéét wat nou gedoen moet word.

Mboweni en Ramaphosa bou ’n stewige muur tussen die Zuma-ANC en die Ramaphosa-ANC met ’n nuwe “Thuma Mina”-narratief van ’n herrysing uit die Zuma-as. (Rama­phosa hoop seker ons sal vergeet dat hy vier jaar lank Zuma se adjunk was . . .)

Soos Mboweni uit Jesaja 58:12 aangehaal het: “Jou mense sal die ou puinhope herbou, die fondamente herstel wat al geslagte lank bestaan. Jy sal bekend staan as ’n volk wat sy afgebreekte mure herbou, wat sy strate herstel sodat daar weer mense kan woon.”

Twee dae later bou Ramaphosa voort op die nuwe dapper toon: Die praatjies van witmonopoliekapitaal kry net hier end, sê hy.

En hy spog dat die private sektor se beleggingstaking beëindig is met R290 miljard se projekte oor die volgende paar jaar.

Ek wonder of Mboweni al nagelees het oor die man na wie sy ouers hom genoem het, maarskalk Josip Broz Tito, leier van die ou Joego-Slawië.

Hy was wel ’n meedoënlose dik­tator, maar het met Stalin gebots en in die 1960’s Moskou se houvas op sy land verbreek.

Hy was meer liberaal as enige ander leier van die ou Sowjetunie, was in 1968 medestigter van die Beweging van Onverbonde Lande, en het nie net sy eie grense vir besoekers oopgegooi nie, maar sy burgers toegelaat om te reis. Ek het self in 1982 met my groen apartheidspaspoort lekker deur sy land gereis.

Maarskalk Tito was ’n onortodokse, hardegat skeiebreker. Ek hoop ons Tito gaan dit ook wees.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Max Du Preez  |  Anc  |  Ekonomie  |  Finansies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.