Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Identiteit is nie etnisiteit
’n Student betoog teen Afrikaans op die kampus van die Universiteit van Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Meer woorde – en venyn – is in die eindelose debat oor Afrikaans op Stellenbosch gebesig as in die meeste ander onlangse polemieke in Suid-Afrika.

Ek was nog nooit juis deel van dié debat nie. Tog het ek vandag die behoefte om iets daaroor te sê.

Ek wil wegspring met dié stelling deur die skrywer Jan Rabie wat die laaste tyd so kwistig aangehaal word en veral omdat dit van ’n besonderse mens soos Rabie gekom het, sommer net so as evangelie aanvaar en in die taaldebat gebruik word: “Sonder Afrikaans is ek niks.”

Ek weet nie in watter konteks hy dit gesê het nie. Maar dalk moet ons ’n debat oor Afrikaans begin deur te sê dié stelling kan mos nie algemeen geldig wees nie. Dit hoort ook nie in ’n nugtere debat oor onderrig aan ’n universiteit nie.

Die eerlikste is om myself as voorbeeld te gebruik. Ek het in ’n Afrikaanse huis in ’n Afrikaanse gemeenskap grootgeword en skoolgegaan en aan ’n Afrikaanse universiteit gestudeer. Afrikaans is dus my moedertaal, my eerste taal.

Maar daar is baie meer aan my as ’n Afrikaner en Afrikaansprater. My spiritualiteit, my menslikheid, my sin vir estetika en moraliteit het nie ’n taal nie (hoewel my Afrikaanse omgewing dit sekerlik in my vormingsjare beïnvloed het). Ek is ’n skrywer (meestal in Engels), ’n pa, ’n eggenoot, ’n liberale demokraat, ’n reisiger en wêreldburger, ietwat van ’n omgewingsaktivis en ’n betrokke burger van Suid-Afrika en sal dit bly al sou dit om die een of ander ondenkbare rede gebeur dat ek nooit weer ’n woord in Afrikaans rep nie.

Ek weet nie presies hoe ’n mens dit bepaal nie, maar ek glo nie ek dink net in Afrikaans nie. Soms, as ek ’n ruk lank Engels geskryf of gepraat het en na Afrikaans moet oorslaan, soek ek na Afrikaanse woorde, en andersom.

Ek praat Engels met my vrou en daar is geen kultuur- of kommunikasiegaping tussen ons nie. Ons het, soos die Doppers altyd gesê het, dieselfde lewens- en wêreldbeskouing. Haar agtergrond, haar kinderjare, was baie soos myne, buiten dat haar ouers Engelssprekend is en sy aan Engelse skole en universiteite gestudeer het. Sy sou ook nooit wou sê dat sy niks sonder Engels is nie.

Ek het Afrikaanse vriende en familie in die buiteland wie se kinders net Engels praat, en só het dit dan hul nuwe huistaal geword. Ek het nie die indruk dat dié arme bloedjies juis ’n identiteitskrisis het of dat dit die kommunikasie tussen ouer en kind belemmer nie.

Ek het onlangs boeke oor twee begaafde Afrikanerleiers, Jan Smuts en Eugène Marais, gelees en dit het my opgeval dat albei in hul persoonlike lewe dikwels verkies het om meestal Engels te praat. Smuts, ’n Swartlander, se briewe aan sy vrou, Isie, ’n Bolander, was meestal in Engels.

Sou dié twee intellektuele reuse ooit gedink of gesê het hulle is niks sonder Afrikaans nie?

Beteken dit ek staan onverskillig teenoor Afrikaans? Geensins. Ek is baie lief vir Afrikaans, om dit te praat, te lees en te skryf. Ek dink dit is ’n wonderbaarlike jong taal en behoort gekoester te word.

Dit alles net om die punt te stel dat, wanneer ons aan die taaldebat deelneem, ons versigtig moet wees om nie identiteit en etnisiteit met taal te verwar nie. Dié konsepte hou verband met mekaar, maar ons moet baie helder dink oor waar die een begin en die ander eindig. In dié debat mag net taal ter sake wees.

Stellenbosch behoort nie aan Afrikaanssprekendes of Bolanders nie. Dit is ’n besonderse nasionale bate; dit behoort aan almal in Suid-Afrika. Dit kan nie anders nie.

Ek sien geen waarde daarin dat Stellenbosch net nóg ’n Engelse universiteit in Suid-Afrika word nie. Diversiteit op alle vlakke, taal ingesluit, behoort getroetel en bevorder te word.

Maar toeganklikheid vir almal en ’n verwelkomende kultuur op die kampus is nou ’n prioriteit. Dit kan in 2016 nie onderhandelbaar wees nie.

Die voortbestaan van Afrikaans as onderrigtaal op Stellenbosch sal hierby moet inpas, nie andersom nie. Geen demonisering van mense wat só dink as hensoppers, gatkruipers, oorlopers of uitverkopers gaan dié harde werklikheid verander nie, al word dié etikette ook hóé vermaaklik en met vernuftige woordgebruik deur wie ook al uitgedeel.

Meer oor:  Max Du Preez  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.