Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Onstuimige tyd kom vir Zuma

Nou ja toe, daar’s die aandag weer terug waar dit hoort: by pres. Jacob Zuma, sy regering en sy party se korrupsie, selfverryking, baantjies vir boeties en vrot administrasie.

Hoe hard die ANC ook al probeer om rassisme die hoofgesprek in Suid-Afrika te maak, die verrotting in die Uniegebou en Luthuli-huis gaan kort-kort weer sy kop uitsteek.

Eergister het elke Sondagkoerant oor ’n Zuma-skandaal berig, elkeen oor ’n ander skandaal. Alles dui daarop dat 2016 Zuma se werklike annus horribilis gaan wees – ja, veel erger as 2015.

Vandeesweek staan twee van Zuma se getrouste skoothonde in die hof. Adv. Nomgcobo Jiba, adjunkhoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), word in die hooggeregshof deur Willie Hofmeyr, een van haar senior kollegas, daarvan beskuldig dat sy haar amp misbruik het om haar vyande by te kom. Hofmeyr klap ook sommer na Shaun Abrahams, nuwe NVG-hoof wat duidelik laat blyk het hy is stewig in die Zuma-kraal.

En die eens onaantasbare Richard Mdluli, voormalige hoof van misdaadintelligensie en voorste Zuma-beskermer, is terug in die hof op aanklagte van ontvoering, aanranding en dwarsboming van die gereg. Die wiel is besig om te draai, stadig maar seker.

In die ANC-alliansie het die ontevredenheid oor die onheilige bande tussen die Zuma-binnekring en die Gupta-

familie nou kookpunt bereik nadat dit bekend geword het dat die minister van minerale bronne die Guptas bystaan om nóg ’n myn te bekom.

Hoe meer inligting oor Zuma se katastrofiese afdanking van Nhlanhla Nene as minister van finansies in Desember en sy bollemakiesie agterna bekend word, hoe duideliker is dit vir my dat minstens drie lede van die ANC se topses hom tou gegee het om homself mee op te hang.

Eergister het elke Sondagkoerant oor ’n Zuma-skandaal berig, elkeen oor ’n ander skandaal.

Nene se afdanking was nie regtig ’n verrassing vir die senior mense in

Luthuli-huis nie. Etlike dae voor dié stap het ’n lid van die Zuma-binnekring, die joernalis Karima Brown, dit in ’n berig voorspel. Ek het dadelik op Facebook geskryf dat dit ’n ramp vir die ekonomie sou wees en ­Zuma onder uiterste druk sou plaas. Dis mos buite die kwessie dat Cyril Ramaphosa, Zweli Mkhize, Gwede Mantashe, Baleka Mbete en Jessie Duarte nie ook dié berigte gelees het nie. Daar is mos ook geen kans nie dat hulle, soos ek en ander, vooraf geweet het watter impak dit op die mark en die waarde van ons geldeenheid sou hê.

Ons weet ook nou dat Zuma se plaasvervanger vir Nene, Des van Rooyen, lank voor die tyd geweet het wat kom – lank genoeg sodat hy senior mense kon gaan werf om vir hom in die tesourie te gaan werk; mense wat die ­oggend ná sy aanstelling saam met hom op kantoor opgedaag het.

Maar Ramaphosa, Mkhize, Mantashe en Kie. het tjoepstil gebly totdat die ­papaja die waaier getref het en toe het hulle Zuma verplig om in sy spoor om te draai – die grootste vernedering in sy politieke loopbaan.

Zuma word nou hoofsaaklik deur die premiersliga, ’n magstruktuur bestaande uit die premiers van die Vrystaat, Limpopo en Noordwes, en tradisionele strukture in KwaZulu-Natal gesteun en deur die konstitusionaliste in die ANC, die SAKP en Cosatu teengestaan. Die premiersliga se noue bande met die Guptas raak by die dag ongewilder.

Twee kritieke hofsake wat Zuma kan verplig om Nkandla-geld terug te betaal en weer van korrupsie aangekla te word, staar hom in die volgende ­weke en maande in die gesig.

Maar eers moet hy by die EFF verbykom wat sy staatsrede op 11 Februarie wil ontwrig. As ek ’n beter mens was, sou ek gesê het: Sterkte, kameraad.

  • Du Preez is ’n kommentator.

Meer oor:  Richard Mdluli  |  Jacob Zuma  |  Korrupsie  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.