Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuinskyk
Max du Preez: Taaldebat - Druk ‘reboot’-knop
Open Stellenbosch betoog teen Afrikaans. Foto: Argief

Die eerste volbloed-broedertwis in ’n lang tyd. Dit maak my skoon nostalgies.

Ek het in die laaste tyd half gewoond daaraan geraak dat die meeste kritiek op my skrywes wou hê dat ek ’n rassis en ’n dissipel van Verwoerd is. Dis amper verfrissend om weer ’n gatkruiper, ’n verraaier en ’n uitverkoper genoem te word.

Ek praat van die taaldebat, die vraag oor wat Stellenbosch en die ander tradisioneel Afrikaanse universiteite vorentoe met onderrig- en voertaal moet doen.

Nee, ekskuus, ek moet dit nie ’n debat noem nie. Daarvan was die afgelope week nie veel sprake nie. Dit was eintlik maar net ’n emosionele verdagmakery en uitskellery – en hiperbool. Kom ek gee ’n paar voorbeelde – en dan nie van die voorspelbare histeriese regses in die sosiale media nie.

Breyten Breytenbach het die toon aangegee met sy stuk vroeg in die debat oor Stellenbosch waarin hy aanklagte soos “instinktiewe fascisme” en “onverantwoordelikheid, gemaksugtigheid, domheid en ruggraatloosheid” aan die US-rektor en sy bestuurspan gerig het.

Die sanger Chris Chameleon skryf dat as ’n universiteit Afrikaans se “hoërfunksieprestasies” ondermyn, is dit “kulturele geweld­­pleging” wat min verskil van die Islamitiese Staat se huidige vernietiging van antieke standbeelde en geboue in die Midde-Ooste – sy doel is die “vernietiging van mense­kultuur”.

Die andersins besadigde akademikus Johann Rossouw vra in ’n ope brief aan die rektor Wim de Villiers of hy en sy span “nie eerder mob justice as geregtigheid” dien nie; of die taalvoorstel nie ’n “stem van kritieklose, polities naïewe onnoselheid” is nie.

Volksblad se nuushoof en rubriekskrywer Charles Smith skryf dat mense soos Max du Preez en ander “wat Slim Wim se Damaskus-oomblik toejuig” nou “tjoepstil” is oor die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) wat afgebrand word. “Wat Maties, Kovsies en Pukke hulself moet vra, is: As Afrikaans vernietig is, wat is volgende? Waar lê Max se rubicon? Dit gaan lyk soos die UWK: ’n plek in vlamme.” En dan, onvermydelik: “ ’n Paar Afrikaners gaan hul messe in hul eie moedertaal se rug druk. Verraad lê diep in ons bloed.”

Rapport se redakteur, Waldimar Pelser, het sy aanbieding van die kykNET-program Insig Maandagaand gebruik om ’n verwoestende aanval op De Villiers te doen. Van audi alteram partem was nie sprake nie – hy het ’n onderhoud met een van die voorste stryders vir die dominante posisie van Afrikaans op Stellenbosch, Christo Viljoen, gebruik om sy standpunt te steun.

Die Afrikaanse media was vol bangmaakstories. Soos dat graad 12-leerders “se broeke bewe” met die nuus dat Stellenbosch “nou dalk Engels gaan word”.

’n Outjie word aangehaal dat hy “regtig groot geskrik” het, want hy ken nie enige Engelse biologie- of fisiesewetenskap-terme nie. (Ek wonder waar dink dié seun gaan hy sy beoogde BSc in molekulêre biologie eendag toepas – in Orania?)

Dit het nou ’n stryd tussen die goeie en die kwade, die duiwels en die engele geword. As jy dink daar is ’n saak uit te maak dat Stellenbosch oper en toegankliker gemaak moet word deur nie-Afrikaanse studente beter te akkommodeer, is jy ’n hater van die Afri­kaanse taal en ’n naprater van die ANC en drukgroepe soos Open Stellenbosch.

Ek dink ons moet net hier stop en die taaldebat se reboot-knoppie druk. Ons moet met heelwat minder emosie en meer rede (en feite, en eerlikheid) dié uiters komplekse kwessie van taal en tersiêre onderrig uitpluis.

Onder die vrae waaroor ons moet besin eerder as skreeu, sou ek sê is die volgende.

Hoeveel van ons emosie gaan oor taal, onderrig en die belange van studente en hoeveel oor identiteit en ons gevoel van vervreemding in die huidige bestel?

Wat presies bedoel ons met die “hoër funksies” van Afrikaans, wat is die werklike waarde daarvan, en gaan dit noodwendig nou skipbreuk ly?

Is die beginsel dat moedertaal­onderrig op skool verkieslik is, net so op universiteite toepaslik?

Is dit werklik onvermydelik dat Afrikaans ’n doodsteek gaan kry as Engels die verstektaal aan universiteite gaan word? Is daar nie realistiese, haalbare maniere waarop veeltaligheid met ’n plek vir Afrikaans verseker kan word nie?

Is ons beroep op die Grondwet om Afrikaans op universiteite voorkeur te gee, werklik versoenbaar met die res van die Grondwet?

En, les bes, is ’n voorkeurposisie vir Afrikaans en die gevolglike uitsluiting van die meeste swart studente hoegenaamd haalbaar in die politieke milieu van 2015?

  • Max du Preez is ’n joernalis, skrywer en politieke kommentator.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.