Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max help straks diskoers

Ek dink nie dit was nodig dat Max du Preez, uitgewer van vryeweekblad.com, teenoor Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit-beweging, “bieg” omdat hy skepties was oor hul idees oor “selfversorgendheid en die nodigheid om mense daarvoor te mobiliseer waar die staat misluk nie”.

Barnard Beukman

In die komplekse situasie van Suid-Afrika word daar maar deurlopend gewroeg oor moontlike oplossings. En soms besef ’n mens dat ander idees dalk tog ’n beter moontlikheid kan wees. Du Preez was inder­daad self ook oor sekere kwessies reg, waaroor andere eers heelwat later tot insigte gekom het.

Belangriker is dat sy opmerkings op vryeweekblad.com se Maandag met Max sal bydra tot ’n meer verdraagsame diskoers, ook vanuit progressiewe geledere.

Sowat ses jaar gelede het daar ’n soort histerie losgebars dat ’n mens net aanvaarbaar progressief kan wees as jy noodwendig alles afskiet wat uit die Solidariteit-beweging se rigting kom. Afrikaanse koerante, soos Beeld, het deurgeloop omdat hulle bloot nuus uit die beweging se geledere durf publiseer het.

Die beweging moes ten alle koste verguis word en die mate waartoe jy dit gedoen het, het jou progressiewe blou bloed des te meer veredel.

Een akademikus het in bykans fanatiese trant ’n fopslaai van versinsels by Media24 se bestuur gaan aandra oor hoe “Afrikaanse redakteurs en leiers van Solidariteit geheime vergaderings hou om agendas te bepaal”. Uiteraard van enige waarheid ontbloot toe die “bron” van die bewering nagespeur is en ’n windeier opgelewer het. Dit maar net een voorbeeld oor wat gedoen is in die woedeveldtog omdat die beweging en sy lede nie heeldag deur Afrikaanse koerante aangeval is nie.

Die post-Mandela-ANC gee gewoon geen erkenning aan die opofferings, skade en selfs vervolging wat baie Afrikaanssprekendes ook in die bevrydingstryd moes beleef nie.
Max du Preez
Flip Buys
Flip Buys

Dit kan uiteraard nie alles op Du Preez se brood gesmeer word nie, maar hy het self in sy destydse weeklikse rubriek in Beeld gekla dat Afrikaanse koerante “witvoetjie soek” by die beweging en nie kritiese berigte oor hom dra nie. In dier voege het hy ook die hou ingekry in die aanvaardingsrede van sy welverdiende eredoktorsgraad by die Universiteit Stellenbosch.

In werklikheid het ons, soos in die geval met enige ander organisasie, burgerlike beweging of politieke party wat nuus maak, daaroor verslag gedoen. Of meningsartikels en rubrieke aanvaar as deel van die diskoers wat ons meen oor die wydste moontlike spektrum nodig is. Dit was in ooreenstemming met ons redaksionele benadering om ’n markplein van verskillende idees te bied, waaruit standpunte geformuleer kon word.

Ek onthou een week, so drie jaar gelede, toe daar weer ’n klaaglied was omdat ons kwansuis oormatige dekking aan die beweging gee. Ek het deur die week se koerante geblaai en gesien dat The Citizen en The Star daardie week meer nuusberigte as Beeld oor hom gedra het!

Ironie is, in hierdie rubriek, hoofartikels en ’n buitengewone hoofartikel of twee, het ons nie gehuiwer nie om in sterk taal kritiek te lewer oor byvoorbeeld die AfriForum-jeugtakke se optrede op kampusse, van Ernst Roets en ander se uitsprake waarmee ons verskil het of wat na ons mening die nasionale temperatuur onnodig opgejaag het. Van ons berigte het een van die spelers in daardie breër dampkring, Carel Boshoff jr., gou uit sy rol as hoof van die Orania-beweging gehad. Maar waar ons met iets saamgestem het, is dit ook belig.

Nie omdat ons enersyds wou wys hoe progressief ons is of andersyds om witvoetjie te soek nie. Dit is maar die werk wat ons heeldag doen. Sonder om voor te gee ons het ooit alle wysheid in pag.

Die post-Mandela-ANC gee gewoon geen erkenning aan die opofferings, skade en selfs vervolging wat baie Afrikaanssprekendes ook in die bevrydingstryd moes beleef nie. Baie van hulle is sonder seremonie in dieselfde trant as Steve Hofmeyr tot rassis verklaar.

Moontlik is dit waarom daar die alewige versugting is om te posisioneer deur wie jy aanval – die onverdraagsaamheid oor ander standpunte wat die linkse en regse punte van die hoefyster so passievol deel.

In hierdie ruimte is al geruime tyd gelede opgemerk enige samelewing kort die meer progressiewe stemme as deel van die ondersoekende kompas oor die hede en die toekoms, hetsy of dit nou ’n veelgeroemde skrywersbeweging of in enige ander vorm is. Maar dat die progressiewe Afrikaanse stem nou meermale gravitas kort en beperk is tot baklei soek met Kallie Kriel.

Positiewe kommentaar op adv. Gerrie Nel se nuwe rol van “self­versorgendheid” was omtrent Beeld se grootste sonde. Vandag sit hy met die familie van Senzo Meyiwa, vermoorde Bafana Bafana-kaptein, en die Botswana-regering op sy kliëntelys­.

Die skoen van ’n gebrek aan gravitas pas Du Preez uiteraard nie. Inteendeel. Hopelik sal sy invloed deursuur sodat ons almal kan herbesin oor hoe om deur doeltreffender diskoers by die groot antwoorde uit te kom wat ons dringend kort.

Meer oor:  Barnard Beukman  |  Afrikaner  |  Politieke Partye  |  Solidariteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.