Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mbeki-gesprek daarom nodig
Willie Spies

Twee weke gelede het ek in dié rubriek genoem die dooiepunt oor oudpres. Jacob Zuma se verskyning voor die Zondo-kommissie, en veral die onoortuigende hantering van die situasie deur die ANC-kader-oorheersde uitvoerende gesag, plaas die grondwetlike demokrasie in die weegskaal.

Vandag weet ons dat die konstitusionele hof reeds ’n datum bepaal het vir die aanhoor van argumente deur die sekretaris van die Zondo-kommissie oor waarom Zuma tronkstraf opgelê moet word weens sy openlike minagting van die regsprosesse wat tans plaasvind.

Gestel vir ’n oomblik die konstitusionele hof bevind op 26 Maart dat Zuma moet tronk toe gaan. Dieselfde polities gedomineerde uitvoerende gesag wat tot dusver misluk het om korrupsie te bestry en trouens self tot op die been vrot van korrupsie is, sal dan gekonfronteer word met die yslike turksvy om ’n bevel van die hoogste hof van die land dat ’n voormalige president moet tronk toe gaan, te laat uitvoer deur ’n gekompromitteerde polisiediens.

Voor 1994 was Suid-Afrika nie ’n grondwetlike demokrasie nie.

Die blote feit dat so iets ’n yslike turksvy is, laat reeds die vraag ontstaan of ons enigsins ’n grondwetlike demokrasie is en, meer nog, of Suid-Afrika ooit ’n grondwetlike demokrasie was. Voor 1994 was Suid-Afrika nie ’n grondwetlike demokrasie nie. Die parlement was soewerein en kon wette na goeddunke maak. Daar was geen menseregte-akte waaraan wette getoets is nie en as ’n wet gemaak is wat mense opdeel in rassegroepe, was dit wet.

Ná 1994 het Suid-Afrika in naam ’n grondwetlike demokrasie geword, maar die menseregte-akte bepaal dat mense net gelyk is in soverre daar nie maat­reëls nodig is om ongelykhede van die verlede reg te stel nie. So kan die parlement drakoniese swartbemagtigings- en regstellendeaksie-wette maak – en howe kan en wil dit dikwels nie keer nie.

Verder bepaal die menseregte-akte dat taal- en kultuurregte wel uitgeoefen kan word, maar dat iemand nie mag voel dat hulle daardeur uitgesluit word nie – en so kon universiteite op die aandrang van die EFF Afrikaans as universiteitstaal vernietig – met die konstitusionele hof se toestemming.

Daar is ’n toenemende gewaarwording in die Suid-Afrikaanse samelewing dat die politieke bestel wat tans geld, inderwaarheid nie ’n werklike grondwetlike demokrasie is nie.

Oor grondbesit en eiendomsreg bepaal die menseregte-akte dat eiendomsreg beskerm moet word, maar dat die herverdeling van grond om die nalatenskap van die verlede weg te neem, ’n prioriteit is. Tans druk die ANC die nuwe onteieningswet deur om die konfiskering van grond sonder vergoeding, in die naam van herverdeling, te regverdig en ongelukkig bied die kwalifikasies in die huidige eiendomsklousule min beskerming.

Daar is ’n toenemende gewaarwording in die Suid-Afrikaanse samelewing dat die politieke bestel wat tans geld, inderwaarheid nie ’n werklike grondwetlike demokrasie is nie, maar mee­doënlose meerderheidsoorheersing, agter die fasade van ’n grondwetlike demokrasie.

Die onsekerheid oor of die konstitu­sionele hof Zuma se inhegtenisneming gaan gelas of nie en die vraag of die gewapende MK-veterane by Nkandla se hekke gaan toelaat dat hul hoofindoena in hegtenis geneem word of nie, is dus nie die eintlike krisis nie. Die werklikheid van ’n grondwetlike bestel wat in naam ’n grondwetlike demokrasie is maar in praktyk ’n tirannie van die meerderheid geword het – dít is die krisis.

Daarom moet nuwe verstandhoudings bereik word tussen die verskeidenheid van gemeenskappe waaruit ons samelewing geweef is. Daarom is die onlangse gesprek en verstandhouding wat bereik is tussen die Thabo Mbeki-stigting en verskeie Afrikaner-groepe om ’n Afrikaner-Afrika-inisiatief stu­krag te gee, uiters betekenisvol.

  • Willie Spies is ’n prokureur van Hurter Spies Ing. en voorsitter van Pretoria FM.
Meer oor:  Willie Spies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.